Tuiste > Bybelse vrae > Ander feeste wat Christene kan vier? (soos Kersfees ) 3

Ander feeste wat Christene kan vier? (soos Kersfees ) 3

In die eerste van die reeks artikels het ek oor die Joodse feeste geskryf.  Uit die tweede artikel het geblyk dat die enigste fees wat Christene werklik behoort te vier die Opstandingfees is.  Dit is die Sondag.  In hierdie artikel behandel ek die vraag – watter ander feeste kan ʼn Christen met vrymoedigheid vier?

1 Feeste:
Feeste is eie aan die mens.  Van die vroegste tye word feeste gevier.  Primitiewe volkere het gewoonlik feeste gevier met die oorgangstye van die lewe.  Daar is 4 stadiums of hekke waardeur die mens moes gaan nl. geboorte, puberteit, huwelik en dood.  Tydens die vier gebeurtenisse is daar fees gevier.  So was daar ook feeste wat gekoppel was aan die seisoene van die jaar.
In die Ou Testament het die Here ook vir Israel (Lev. 23) sekere feeste laat vier.  Hulle het die feeste gevier om aan God eer te bring, dankbaarheid te betoon en sy troue sorg te vier.  Al kom Paulus en stel die mens vry van enige Joodse feeste, beteken dit nie dat die mense nie enige feeste kan vier nie.  Ons het reeds in die vorige artikel van die Opstandingsfees (Sondag) gepraat as die grootste fees vir Christene.  A C Barnard noem dat selfs Christene uit die Jodedom die behoefte gehad het om Joodse feeste te vier.  Dit is vanselfsprekend dat nie-Joodse -Christene ook ʼn behoefte sou hê om fees te vier.  HDA du Toit is van mening dat vroeë Christene ʼn behoefte aan eie feeste gehad het omdat dit aan hulle “ʼn steunpunt vir godsdienstige en sosiale lewe” gebied het.
Oral in die wêreld waar die vroeë Christene beweeg het, het heidense volkere rondom hulle feeste gevier en hulle moes daarteenoor stelling inneem.  Hulle moes hulle eie identiteit as volgelinge van Jesus vertoon.  Dit het waarskynlik meegehelp dat verskeie kerklike feeste in die lewe geroep is.  Soos die Christene uit die Jodedom behoefte gehad het aan feeste wat hulle geken het, het die gelowiges uit die heidendom ook herinneringe gehad van hulle feeste.  Die oplossing was nie om die Joodse feeste te vier nie, want die heidense Christene het nie dieselfde sentiment gehad nie.  Die oplossing het daarin gelê om eie nuwe feeste na aanleiding van die Here Jesus se lewe te begin vier.  Dit is hoe die “kerklike jaar” ontstaan het.  Christene wou gebeurtenisse rondom Jesus en hulle eie verlossing vier.

2 Kerklike jaar
Die mooiste beeld wat ek oor die ontwikkeling van die kerklike jaar gelees het, het HDA du Toit geskryf “ Die kerklike jaar is soos ʼn katedraal waaraan eeue lank gebou is.  Niemand weet meer wie oorspronklik daaraan gebou het nie; in elke geval is dit telkens verander en aangepas by latere insigte”.
Die kerklike jaar is nie deur een mens uitgedink nie, maar deur baie. (Daar is ʼn persepsie wat alle kerklike feeste wat ons vandag ken aan Konstantyn toedig, wat natuurlik nie waar is nie).  Dit is eers later (na baie debatte en verskille) dat die kerk bepaal het dat daar in die Christelike wêreld sekere feeste gevier moet word.  Die kerklike jaar is ʼn jaarlikse kerkkalender wat deur die eeue gegroei het deur Christene se behoefte om die verlossing in Jesus Christus te vier.

Met die verloop van tyd het die weeklikse eendagfees (Sondag), (wat die enigste Christelike fees is waarvan ons in die Bybel lees) gelei tot die viering van ʼn weeklange “Stil Week” om die kruisiging en opstanding van Christus te herdenk.  Mettertyd het die vroeë Christene die veertig dae tot by Hemelvaart, waarin die verskyning van Jesus plaasgevind het hierby gevoeg.  Nog later is die tien dae van Hemelvaart tot Pinkster daarby gereken, om so, vyftig dae van Pase tot Pinkster te kry.  So, eers was daar net ʼn Paassiklus, later het die Pinkstersiklus bygekom met Hemelvaart, Pinkster en Triniteitssondag.  Baie lank na die paas- en pinkstersiklus het die adventsiklus bygekom.
Die kerkhervormers wou aanvanklik geen feeste behalwe Sondag as opstandigsdag toelaat nie.  Martin Luther wou radikaal breek met Joodse tradisies, omdat Christus ʼn radikale nuwe orde gebring het!  Calvyn het ook net in Sondae geglo hoewel hy ook ander dae begin toelaat het.  Die Protestante het eers in 1618 by Dordt besluit dat hulle voortaan die volgende feesdae gaan vier: Sondae (as opstandingsdag), Goeie Vrydag (sterwe van Jesus), Opstandingsdag en Kersfees (geboortedag).  Later is Hemelvaart bygevoeg.

3. Die kerklike siklus.

* Die Adventsiklus (Kersfees)

Volgens G van der Leeuw het die eerste Christene nie soseer in die datum van Jesus se geboorte belanggestel nie, maar in sy opstanding.  Eers in die vierde eeu het die kerk begin om aan Kersfees aandag te gee.  Oor die presiese datum wanneer Jesus gebore is, weet ons tot vandag toe nog nie.  Verskillende berekenings is gemaak, maar op die einde het die Oosterse Christelike Kerk die sesde Januarie en die Westerse Kerk, 25 Desember as Christus se geboortedag gevier.  Die jaartal weet ons ook nie regtig nie.  Die een navorser beweer dat dit omtrent 3 VC en die ander dat die 4 VC moes wees.
Die mees geloofwaardige verklaring oor waar die datum vandaan kom, is dat dit ontstaan het uit die viering van die fees van die songod, Mithras.  Die ou Germaanse stamme het baie waarde aan die winter en somer sonwending gegee.  Ongeveer 25 Des het die son al hoe helderder geword.  Die Christene wat uit die heidendom gekom het, het die dag verchristelik en dit het die tyd geword wanneer Christene die geboorte van Christus begin herdenk het.
Dit is egter nie belangrik presies wanneer Christus gebore is, want ons weet eenvoudig nie.  Wat eerder van belang is dat ons aan die dag ʼn Christelike inhoud gee.

Baie mense wys op die heidense afkoms van Kersfees en wil dan niks daarmee te doen hê nie.  Ons moet onthou dat die Christene uit die heidendom baie aanpassingsprobleme gehad het en baie dinge eenvoudig gaan verchristelik het.  So is die datum van Kersfees ook uit die heidendom verchristelik.  Die datum is egter nie so belangrik soos die inhoud nie. Elke Christen kan Kersfees vier wanneer hy wil, maar ter wille van die eenheid van die Kerk is gekies vir 25 Desember.

Ons vier Kersfees vandag oor drie redes:
1) dit is ʼn fees om die geboorte van die Here te herdenk.
2) dit is ʼn jubelfees oor die vreugde en blydskap oor die verlossing wat gekom het (Luk.2:10).
3) Kersfees is ook ʼn familiefees, want dit is Christus wat ons as familie saambind.

So, al het Kersfees se datum uit die heidendom onstaan, kom Kersfees (herdenking van Christus se geboorte) en die vreugdevolle viering daarvan uit die Bybel (Luk 2:10).  Dit is elke gelowige se eie keuse om dit saam met Christene te vier en die fees nie gelyksoortig aan die wêreldse of heidense feeste te maak nie.

Christene vier ook die 4 Sondae voor Kersfees nl. Adventtyd.  Advent kom van die Latynse woord “adventus” wat koms of aankoms beteken.  Die kerk het die tyd waar ons voorberei om die geboorte van Christus te herdenk, Advent genoem.  Volgens Du Toit het dit heel moontlik die oorsprong in die 5de eeu in Spanje of Frankryk.  Aanvanklik lyk dit of daar ʼn behoefte was aan die voorbereiding vir die viering van die koms van die Messias en het hulle die 40 dae voor Paasfees gebruik om ʼn tydperk voor Kersfees ook vas te stel.  Die getal Sondae voor Kersfees was egter nie altyd dieselfde nie Dit het gevarieer tussen ses (Milaan), vyf (Gallikaanse liturgie) en vier (Rome) Sondae.  Tussen 1073 en 1085 het Gregorius VII die getal Adventsondae vir die kerk op vier Sondae vasgestel.
Die motiewe of bedoeling van die Adventtyd was suiwer om Christene voor te berei op Kersfees.  Die bedoeling was dat ons saam met al die gelowiges moes begryp wat die omvang van Christus se liefde is.

•    Paassiklus (Opstanding):
Paasfees, wat oor die opstanding handel, was aanvanklik saam met die Sondag die enigste siklus wat vroeë gelowiges gevier het.  Dit is die een Christelike fees wat ʼn Ou-Testamentiese agtergrond het nl. die pasgafees (sien eerste artikel in reeks) wat herinner aan Israel se uittog uit Egipte en die slag van die lam en die gebruik van sy bloed.  Die Here Jesus het hierby aangesluit die nag toe Hy verraai is.  Dit is ook die nag waar die nagmaal ingestel is wat na sy komende dood verwys het.  Na sy opstanding vier Jesus saam met sy dissipels die nuwe Paasmaaltyd (Hand 10:41) Van toe af sou dit die middelpunt wees van die nuwe verbondsgemeenskap.  Die bloed van die paaslam word nie meer op die altaar gesprinkel nie, want dit is op Golgota gesprinkel.
Die vasstelling van die datum het tot groot debatte in die vroeë kerk gelei, totdat die kerkvergadering van Nicea teen die einde ʼn datum vasgestel het.  Daar is besluit dat Paasfees gevier sal word op die eerste Sondag na die volmaan wat volg op die dag en nag ewening van 21 Maart.  Die vroegste datum is dus 22 Maart en die laatste datum is 25 April.
Later (600 NC) het die behoefte tot voorbereidingstyd vir die kruisiging (Lydenstyd) ook begin posvat.  Die Protestante het die 7 weke lydenstyd by die sinode van Dordt in 1618 vasgemaak.

•    Pinkstersiklus:

Die lydenstyd was ʼn heenwysing na die pelgrimstog op aarde, terwyl die 50 dae tot Pinkstertyd heen wys na die hemelse vreugde wat sou kom. Die Pinkstersiklus omvat Hemelvaart, Pinkster en die Triniteitsfees.
Na die opstanding is dit 40 dae tot met hemelvaart, hierna weer 10 dae tot met Pinksterfees wat die uitstorting van die Heilige Gees herdenk.  Die Pinksterfees het ook raakpunte met die Joodse Pinksterfees.
Daar is baie interessante leesstof beskikbaar oor die detail, ontstaan en inrigting van die kerkjaar.  Lees gerus die Handboek van die Erediens van die NG Kerk, asook die  Leesroosterprojek van Communitas, wat gebaseer is op die Revised Common Lectionary.

4. Hoekom is feeste van die kerkjaar tog belangrik?

•    Dit herinner die volgelinge van Christus aan Jesus se lewe en liefdes-offer.  Die feeste word jaarliks gevier sodat Christene Jesus se lewe in herinnering kan roep.
•    Feeste se doel is om op spesifieke tye aan God eer te bring vir sy genade en liefde.
•    Christelike feeste het ook ʼn ekumeniese motief.  Dit bind Christene uit verskillende denominasies, regoor die wêreld saam.
•    Christelike feeste help gelowiges om ʼn geestelike ritme te ontwikkel wat weer geestelike dissipline aanhelp.
Dit is egter belangrik om daarop te let dat daar geen verpligting op enigiemand rus om enige van die feeste te vier nie.  Dit is slegs die opstandingsfees nl. Sondag wat weekliks gevier moet word.

4. Is daar nuwe feeste wat gevier kan word?
As vrygemaakte Christen kan jy enige fees vier wat jou nader aan die Here bring.  Jy kan die Joodse feeste vier en dit Christelik inklee as dit vir jou tot seën is (jy moet net onthou dat dit nie verpligtend is of noodwendig jou nader aan die Here sal bring nie)- jy kan dit doen en het die vryheid om dit te doen!
Jy kan selfs jou eie feeste skep in lyn met die pad wat jy met die Here gestap het.  Jy kan elkeen van jou kinders se doopfees vier.  Jy kan familiefees vier.  Om fees te vier is ʼn wonderlike geleentheid in elke mens se lewe.  Dink net, elke verjaarsdag wat jy vier is ʼn fees!  ʼn Mens behoort verskeie feeste te vier om die wonderlikheid van die lewe te herdenk.  Soms vier mens fees omdat jy dankbaar is.  Soms vier jy fees omdat jy iets wil herdenk wat vir jou besonders was.  Soms vier jy fees omdat jy nie ʼn gebeurtenis wil vergeet nie of net aan God eer wil gee!  Ek dink feeste is belangrik! Solank Christus sentraal is – kan jy enige fees vier!!!!

Ons grootse fees is natuurlik die fees van die opstanding- Dit vier ek elke dag!!!!!

Quintus

  1. Nog geen kommentaar nie.
  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: