Tuiste > Gebed/Spiritualiteit > 'n Spiritualiteit van eensgesindheid

'n Spiritualiteit van eensgesindheid

Gedurige konflik tussen gelowiges en soms ook gemeenteleiers laat my wonder waarom daar so gebrek aan eensgesindheid is. In ons weeklikse predikantevergadering in die gemeente, is ons op die oomblik besig met Filippense. Hierdie week het ons nagedink hoofstuk 2:1-4. Hierdie gedeelte het ons diep aangespreek oor ons wandel voor die Here, en met mekaar – ons spiritualiteit.

Die perikoop vorm deel van ʼn groter skrifgedeelte, waar Paulus met die gemeente oor Christus se lewenstyl wil praat. Die voorafgaande gedeelte (1:27-30) praat Paulus oor ons lewenswyse wat in ooreenstemming met die evangelie moet wees. Die paragraaf daarna (2:5-11) handel weer oor die veelbesproke kenosisleer.– Christus se vernedering deur sy menswording.

Kenosis verwys na Fil. 2:7 waar Christus homself verneder het “ deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (Jac J Muller se proefskriftitel was: “ Die Kenosisleer in die Kristologie sedert die Reformasie”. In die 17de tot die 19de eeu was daar ʼn vurige teologiese debat of Christus met sy inkarnasie sy goddelikheid neergelê het en of Hy sy goddelikheid net tydelik verbloem het)

Dit gaan in Fil. 2:1-5 oor die term eensgesindheid onder gelowiges. Die motivering wat Paulus vir eensgesindheid opgee is drieledig:

i)Omdat ons een in liefde, een van hart en een in strewe is. Ons kan nie eensgesind wees as ons nie weet ons is saamgebind deur Christus se liefde nie.

ii)Een van hart – kom van die Griekse woord wat saamgestel is uit “ saam” en “siel” Dit gaan dus oor eenders dink en leef omdat ons deur een Gees deurdrenk is. Ons harte moet saam rein wees voor die Here. As ons harte nie saam op dinge van die Here ingestel is nie, gaan ons sukkel om ʼn eenheidsgesindheid te handhaaf. Dit sou beteken dat ons heeltyd die evangelie se kern in ons harte moet nastreef!

iii) Die een van strewe gaan oor die een doel wat ons voor oë moet hê: naamlik “ met my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe” (Fil. 1:20).

Hierdie drie sake vorm die grondslag vir eensgesindheid. Dis die golflengte waarop ons ingestel moet wees om eensgesind te wees!

Die slegte uitkoms van die teendeel blyk weer uit die 3de en 4de vers. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” Dit is duidelik dat selfsug en eersug teenoor eensgesindheid staan. So as ons wonder waarom ons so sukkel om in gemeentes en geloofsgemeenskappe eensgesindheid te kry, is die antwoord in die selfsug en eersug geleë. Daar is heelwat gemeentes en predikante wat by Communitas om hulp vra om konflik op te los. Gemeentes roep soms om hulp omdat die gebrek aan eensgesindheid soveel konflik tot gevolg het. Dalk moet ons almal weer op ons knieë gaan en eensgesindheid nastreef, al verskil ons as mense van mekaar. Eensgesindheid is harde werk, want dit vra dat jy selfsug en eersug moet begrawe. Sodra ons eie eer soek, is die gevolg dikwels konflik in gemeentes (ook onder kollegas). Dalk moet ons doelbewus strewe na ʼn spiritualiteit van eensgesindheid. (dit is natuurlik iets anders as eendersheid en eenparigheid) Dit begin gewoonlik by een party wat bereidheid toon om soos Christus, die minste te wees.

In Fil. 2:5 vra Paulus dat dieselfde gesindheid wat in Christus was (kenosis) ook in ons moet wees. Dit is ʼn gesindheid van “in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”(vs. 3) en “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander (vs4).
As ons nie ʼn lewenstyl van minsaamheid, onselfsugtigheid en nederigheid het nie, sal ons nooit die spiritualiteit van eensgesindheid kan leef nie. Dan sou dit beteken dat ons nie soos Christus kan word nie.
Hy het Homself minder gemaak ter wille van ons!

Dit is egter vers 8 wat my effens onkant betrap het. Daar staan: “Hy was gehoorsaam tot in die dood” Nederigheid/Diensknegskap (kenosis) kom deur gehoorsaamheid.  “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef.”
Eensgesindheid is die strewe om soos Christus te wees, maar in die praktyk bestaan dit uit die harde werk vir ʼn lewenstyl van minsaamheid en nederigheid. Dit is goed om in lydenstyd mekaar aan Christus se nederigheid (kenosis) te herinner.
Ek sou nog baie hieroor wou dink…………

Quintus

  1. Nog geen kommentaar nie.
  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: