Tuiste > Gebed/Spiritualiteit > Jou spiritualiteitstyl beïnvloed jou gebedslewe

Jou spiritualiteitstyl beïnvloed jou gebedslewe

As daar een saak is waaroor mense maklik krities raak, is dit dat ander mense nie die Here op “ons  spesifieke manier waaraan ons gewoond is ” ,  aanbid nie. Maar hoekom bid ons op verskillende maniere ? Hoekom is daar gelowiges wat in een gemeente is, maar verskillend dink oor gebed en eredienste? Daar is ‘n verskeidenheid redes: die een is dat persoonlikhede en temperamente verskil. Mense het ook verskillende talente en gawes. Mense het egter ook verskillende spiritualiteitstipes.

In hierdie artikel gaan ek ‘n kort oorsig gee oor mense se verskillende spiritualiteitstipes. Oral waar ek nog in gemeentes en groepe hieroor gepraat het, het ek gevind dat gemeentes en gelowiges meer begrip vir mekaar se andersheid kry as hulle verstaan dat daar meer as een manier is om tot God te bid, erediens te hou en saam met God te leef!

Wat is spiritualiteit? Dit is die mens se diepste dors / hunkering na God. Dit is elke mens se styl hoe hy voor die aangesig van God wil wandel – hoe hy wil bid en leef. Spiritualiteit verwys na ons ervaring en wandel met God : waar en hoe ons die teenwoordigheid van God beleef.

In Corinne Ware se boek “ Discover Your Spiritual Type: a guide to congregational growth” identifiseer sy vier verskillende spiritualiteittipes. Dit het my baie gehelp om mense, wat anders as ek bid, te verstaan. Sy gebruik ‘n spirituele tipologie van Urban Holmes en onderskei vier tipe spiritualiteitstyle. Sy onderskei tussen (1) ‘n Intellektuele /denkende tipe wat sy ook kortliks “head” noem; (2) ‘n meer charismatiese of hart spiritualiteitsgroep, (3) die mistieke spiritualiteit en (4) die koninkryks of visionênere spiritualiteit. Elke tipe het ‘n sekere rol wat dit in ‘n gemeente speel en elke tipe het ‘n eie gebedstyl.

Ek verduidelik dit kortliks:

Spiritualiteits tipes, soos beskryf deur Corinne Ware and Urban Holmes

· Tipe 1: Kopspiritualiteit (Teologies georiënteerde mens)

Die kopspiritualiteit is ‘n denkende en intellektuele spiritualiteit . Die realiteit van ons geloofslewe is vir hulle belangrik.  Hulle druk hulle teologie in vaste konsepte uit bv. God as Vader. Die letterlik geskrewe Woord van God ( Bybel) is vir hulle die essensie. Hulle hou van alledaagse aktiwiteite en ook van die samekoms van die gemeente. Hulle is soms gemaklik met ‘n formele preekstyl in die erediens en geniet studiegroepe en goeie teologiese preke. Hulle bydrae tot die gemeente is gewoonlik op die terrein van sistematiese teologiese nadenke oor leerstellige en etiese kwessies. Hulle sorg ook vir struktuur in gemeentes. Hulle verkies om slegs die Bybel as bron van hulle spiritualiteit te gebruik (ervaring is nie vir hulle prioriteit nie).

Gebedslewe: Hulle gebedslewe is vir hulle ‘n uitdrukking van hulle eerbied aan God. Hulle beleef God deur hulle verstand. Hul gebed is gewoonlik goedgeformuleer. Hulle sal van gebede hou wat uitgeskryf is en gelees kan word. Hulle hou daarvan om met God te praat. Hulle gebedsstyl is gewoonlik gedissiplineerd, afgerond en met goeie teologiese inhoud. Hulle kan baie baat vind by die Lectio Divina.

· Tipe 2 : Hartspiritualiteit (Charismaties georiënteerde mens )

Die hartspiritualiteit (katafaties/affektiewe) hou van warm uitdrukkings van geloof en interpersoonlike warmte binne die gemeente. Hulle stel die Woord ook sentraal, maar vir hulle is die uiterlike uitdrukking van emosies ewe belangrik. Gewoonlik is dit die spiritualiteitsytipe wat makliker sy goddiensbelewing tentoon sal stel. Dit word gewoonlik gedoen met ‘n gesigsuitdrukking of handgebare of lewenshouding. Persoonlike getuienis, musiek en evangelisasie is vir hulle belangrik –– Hulle verkies tipe prediking wat van ander se getuienisse of ervaring praat. Persoonlike getuienisse is vir hierdie groep baie belangrik. Gewoonlik is hulle warmte, entoesiasme en gemoedelikheid aansteeklik in ‘n gemeente. Hulle is gewoonlik ook voorstanders van informele manier van dinge doen.

Gebedslewe: Hierdie tipe spiritualiteit voel hulle tuis met baie emosie en gevoelsvolle uitdrukkings in hulle gebedslewe, asook binne die eredienste.Hulle hou daarvan om met God te praat, maar minder formeel as die eerste groep. Hulle hou van vrye en spontane gebede.

· Tipe 3: Mistieke spiritualiteit (Mistiek georiënteerde mens)

Die mistieke (affektiewe /opofaties) hou daarvan om aan God se voete te sit en luister. Die affektiewe (emosie) is vir hulle ook belangrik, maar hulle emosie is na binne gekeer. Hulle luister eerder na God as om met hom te praat. Hulle soek die teenwoordigheid van God. Stiltes in erediens is belangrik. Simbole speel ‘n belangrike rol in hulle geloofsvorming. Hulle hou ook van meditatiewe dissiplines en die lees van die Bybel help hulle om nader aan God te groei. Stilgebed is vir hulle belangrik. Hulle sal die mense wees om die gemeente te herinner aan die heiligheid van God te midde van die alledaagse.

Gebedslewe: Gebed is vir hulle eerder om na God te luister, as om met Hom te praat. Hulle hou nie van klaar uitgewerkte antwoorde nie en wil hê dat God Homself aan hulle moet openbaar deur gebed. Gebed is ‘n fokus op die teenwoordigheid van God. Dit is soms genoeg om bloot in stilte aan God se voete te sit. Kontemplatiewe (na binne gerigte gebed)gebed spreek hulle aan

· Tipe 4: Koninkrykspiritualiteit ( Baanbreker georiënteerde mens)

Die koninkryksspiritualiteit ( spekulatief/apofaties) hou daarvan om aktief by sending, barmhartigheid asook die sosiale aksies, betrokke te wees. Dit is vir hulle belangrik om met medewerkers saam te beplan aan die aksies waarby hulle betrokke is en saam te bid daarvoor. Hulle is dikwels die sosiale gewete van die kerk en bring die gemeente tot aksie. Hulle is die mense wat durf en selfopoffering uitstal in hulle navolging van die koninkryk se doelwitte. Hulle skaar hulle gewoonlik by menseregtegroepe en hulp aan vigswesies. Gehoorsame en ywerige mense. (Sommige mense noem hierdie ook die Hand spiritualiteit. Die praktyk het my geleer dat  mense die benaming “hand” misverstaan – hulle dink dit gaan oor basaar hou en koekies bak . Daarom verkies ek eerder Corinne Ware se formulering van :koninkrykspiritualiteit)

Gebedslewe: Hulle bid as hulle besig is om iets vir die Here op die sendingveld te doen. Hulle gebed is baie ingestel dat die koninkryk van God sal groei. Vir hulle word gebed en teologie die beste in hulle praktiese dade getoon. Is ook gerig op wat God in die wêreld moet doén om die koms van die koninkryk te bewerkstellig. Hulle doen graag voorbidding vir die sending en barmhartigheidsaksies van die gemeente.

Corinne Ware wys daarop dat elke tipe sy eie klem plaas op gebed: Tipe 1 kan baie baat vind by die Lectio Divina. Tipe 2 mense het dit nodig om te ekperimenteer in gebed, liturgie en gevoelsvolle musiek. Tipe 3 hou weer van stilgebed en hou ook daarvan om sy gebedslewe privaat te hou. Tipe 4 mense bid weer graag as daar ‘n veldtog gehou word. Tipe 1 en 2 mense hou van programme, sprekers en veldtogte.

Corinne Ware 

IN WATTER VAN DIE 4 STYLE SOU JY INPAS? Onthou jou styl beinvloed die manier hoe jy bid, eredienste beleef en jou daaglikse godsdientige belewing. Jy kan ‘n kombinasie van twee style hê.

Hoe hanteer ons die vier spiritualiteits style ?

Ons hoef nie baie rigied met die indeling saam te stem of dit presies so toe te pas nie, maar dit help ons om onsself en ander wat van ons verskil se godsdiensbelewing te verstaan. Dit help ons ook om groei-areas te identifiseer. Elke spiritualiteitstipe maak ‘n onmisbare bydrae tot die gemeente. Elke tipe moet die ander help om meer gebalanseerde spiritualiteitslewe te hê. Sodra slegs die een tipe oorbeklemtoon word lei dit maklik tot eensydigheid. Soms wonder mense waarom een prediker en sy styl hulle aanspreek en ‘n ander weer nie- wel die antwoord is dat mense verskillende spiritualiteitstyle het en dat predikante verskillende style het. Dit sal gemeenteleiers loon om navorsing te doen na die gemeente se spiritualiteitstipes. Dit kan net wees dat die bediening van die gemeente net een groep in gemeente aanspreek. Indien dit vir gemeenteleiers belangrik is om ‘n geestelike tuiste vir almal te bied, moet hulle seker maak dat daar ruimte vir al vier spiritualiteitstipes in ‘n gemeente is .


Die wete dat ons vir God verskillend aanbid, moet mense tot begrip en dankbaarheid teenoor mekaar stem.

Dit is ook die rede waarom mense verskillend oor gebed dink. Die een persoon het ‘n meer charismatiese styl(emosie en ophef van hande), terwyl die ander ‘n meer mistieke styl(simbole en stiltes ) het. Die een wil ‘n goed voorbereide gebed bid (kopspiritualiteit) en die ander verstaan nie hoekom almal nie vir die sending voorbidding doen nie(koninkrykstyl). Die geheim is dat ons vir mekaar ruimte moet gee en eerder die verskeidenheid vier en waardeer, as wat ons te krities met verskille omgaan. Daar is nie ‘n regte en verkeerde styl nie. Soms maak ons die fout om te dink dat net die mistieke tipe of net die koninkrykstipe mense is wat baie bid.

Die waarheid is dat elke tipe spiritualiteit ernstig is oor gebed – hulle beoefen dit net anders

Kom ons dank God dat ons nie almal dieselfde is en Hom op dieselfde manier aanbid nie. Kom ons dank Hom dat ons vir mekaar het om vir ons ‘n ryke en geseende gebeds- en spirituele lewe te gee.

Quintus

Breda Ludick het destyds saam met Nico Simpson ‘n verwerking van Corinne Ware se boek in ‘n kursusvorm aangebied. Dit het by Buvton (Communitas) verskyn onder die kursusnaam: Koeltebome.

  1. Martin Geustyn
    28/10/2008 om 13:17

    Dankie Quintus,
    Ja ek ervaar dit dan ook in ons gesin, ons is so verskillend en tog kan ons so baie by elkeen leer, al wat ons nodig het is ruimte en die geleentheid om ons aanbiddingswyse te leef. Ek dink dan ook dat ander se geestelike groei baie keer benadeel word omrede ons `n spiritualiteitstipe nie verstaan of weet dat dit bestaan nie. Dankie dat ons dit met verskeie geleenthede kon hoor in die gemeente, dit help my baie in my werks omstandighede om ander Christene te verstaan en ook te vertel van Jesus.
    Martin

    Like

  2. Carol
    04/11/2008 om 13:54

    Ja, ek stem 100 % saam met Martin. Ek weet ook nou waarom ek gemaklik is met ‘n sekere soort styl met betrekking tot gebed. Dit help ook om te weet dat almal nie met dieselfde styl gemaklik is nie en skep ons sodoende ruimte vir mekaar en vul ons mekaar aan. Ek dink ook mens moet meer sensitief wees wat dit betref, veral wat jong Christene betref.

    Like

  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: