Tuiste > Geestelike lewe > Hoekom het die vroeë Christelike kerk vinnig in die heidense wêreld gegroei?

Hoekom het die vroeë Christelike kerk vinnig in die heidense wêreld gegroei?

In Johannes 13 betoon Jesus liefde aan sy dissipels. Hy, die Here en Meester, klee Homself soos ’n slaaf en was hulle voete. Dan maak Hy die nederige daad van voetewassing in die gesprek van toepassing op sy dood aan die kruis, ter wille van ons, en sê dat dit ’n voorbeeld vir ons is (Joh 13:8vv). Jesus se nederige diens en sy gewilligheid om sy lewe af te lê, stel die standaard waaraan die liefde van die “nuwe gebod” moet voldoen.

Liefde beweeg ons tot die soort diens aan God en mekaar wat nie met grense behep is nie.

In die vroee kerk het die Christendom in ‘n heidense wêreld vinnig versprei omdat die volgelinge van Christus met ‘n grenslose liefde geleef het. Hulle het verstaan waaroor die liefde van Christus eintlik gaan. Dit was ‘n selfopofferende, grenslose liefde. Die heidense gemeenskappe het hulle erken as die mense wat anders geleef het, nie omdat hulle beter was nie, maar omdat hulle so gedien het. Dit was die beste evangelisasie medium om die kerk te laat groei. Die sosioloog Rodney Stark vertel (Rodney Stark 1997, The Rise of Christianity, Harper-Collins.) van twee ernstige hoogs aansteeklike plae wat die Romeinse Ryk onderskeidelik in 165 n.C. en 251 n.C. getref het. Elke keer het ongeveer een-derde van die Ryk se inwoners omgekom. Die praktyk van Romeine was om hul siekes op straat uit te sit, om die risiko van aansteeklikheid te verminder. Diegene wat dit enigsins kon bekostig, het die berge in gevlug om aan die plae te ontkom. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die beroemde medikus Galen wat iewers in Klein-Asië in afsondering gaan leef het tot die bedreiging van die plaag verby was. Dionusius, biskop van Aleksandrië skryf dat die Romeine hul dooies soos vullis behandel het om die siekte te vermy.

Stark wys daarop dat die Christene se reaksie anders was. Dit is goed gedokumenteer dat Christene hul siekes bly versorg het, in die aangesig van die dood. Hulle het selfs agtergelate, verwerpte Romeine op straat opgetel, ingeneem, en hulle versorg. Dit het tot baie Christene se dood gelei, maar – om weer biskop Dionusius van Aleksandrië aan te haal – hulle het met vreugde die leed van ander gedra, hulle versorg en gemaklik gemaak, al het dit hul eie dood gekos. Die historiese gegewens dui duidelik daarop, sê Stark, dat toe die Nuwe Testament nog nuut was, Christene werklik Jesus se woorde uitgeleef het:

Want Ek was honger en julle het My iets gegee om te eet; ek was dors, en julle het my iets gegee om te drink; ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk en julle het My besoek. … Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen… (Mat 25:35-40).

Die Christelike geloof het ’n totale nuwe konsep in die Romeinse wêreld ingedra, skryf Stark. Vir die eerste keer het dit duidelik geword dat mense nie bloot uit eie belang of uit eie voordeel kan of hoef op te tree nie.

Omdat God mense liefhet, kan Jesus se volgelinge God nie behaag anders as deur ander mense lief te hê nie. God demonstreer sy liefde deur op te offer, deurdat Jesus sy lewe gee vir ander mense. Jesus se volgelinge moet daarom hul liefde demonstreer deur op te offer in belang van ander. Hierdie liefde moet oor die grense van die eie groep of die eie familie strek (1 Kor 1:2). Dit was  rewolusionêre gedagtes vir die Romeinse wêreld.

Dit is vandag nog rewolusionêre gedagtes. As ons as Christene enigsens ‘n verskil wil maak,  moet ons die Bybelse boodskap ter harte neem!

(Bron:  Danie Mouton van Gemeentedienste netwerk)

  1. Nog geen kommentaar nie.
  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: