Tuiste > Gebed/Spiritualiteit > Gebed is om God, weer God te maak in jou lewe !

Gebed is om God, weer God te maak in jou lewe !

In die besige, gejaagde en doelgerigte lewe kan ons so vasgevang raak in ons eie beplanning en selfs besige geestelike lewe, dat ons later nie meer God se stem hoor nie, maar net ons eie doelwitgedrewe stem. Hierdie lewenstyl kan so ‘n invloed op ons gebedslewe hê, dat ons net ingestel is om vir ons eie doelwitte te bid, in plaas daarvan om God se wil te soek.  Soms moet ons net leer om af te skakel en God se stem probeer hoor.

Ek het die verwoording van bogenoemde saak ook by Philip Yancey raakgelees.  In sy uitstekende boek “Prayer: Does it make a difference” vertel hy hoe Ps. 46:11 ( “ Bedaar en erken dat Ek God is “) op twee maniere hierdie waarheid van gebed onder ons aandag bring.
Die eerste is om te “Bedaar”.  Om tot bedaring te kom, is vir ons moderne leefwyse geen maklike taak nie.  Tien jaar terug het ons briewe binne ʼn week of twee beantwoord.  Vyf jaar terug het ons ’n antwoord binne ʼn dag of twee vir mense gefaks.  Vandag wil mense op dieselfde dag as die versoek ʼn antwoord per epos terug ontvang.  Dit is net nie maklik om tot rus te kom nie.  Gebed sê Yancey is om bewustelik tot bedaring te kom. Hy vertel van die skrywer Patricia Hampl.  Sy het in Assisi in Italië op ʼn pelgrimstog gegaan.  Daar het sy ʼn lys gemaak van antwoorde op die vraag: Wat is gebed?  Sy het ʼn paar woorde neergeskryf.  “ Lof; Dankbaarheid; Vra; Smeek; ʼn Tipe onderhandeling met God; Vrugtelose kerm; Fokus.  “ Toe het haar lys doodgeloop want sy het ontdek dit lyk bloot na ʼn taalhandeling.  Sy het verklaar: ” In wese is gebed ʼn posisie, ʼn plasing van jouself voor God.  Gebed as fokus is nie ʼn manier om perke te stel aan wat gesien kan word nie; dit is ʼn gewoonte om aandag te gee aan alles wat is” Hierdie “gewoonte om aandag te gee aan alles wat is” verg dat ons, soos die psalmdigter sê sal “ bedaar” en stil sal word.  In die fokus van gebed kom alle ander dinge in fokus.  In daardie onderbreking van my roetine val die heelal in lyn.

Yancey gaan verder en verklaar dat die “Stilte” ons voorberei vir die tweede opdrag in die Psalm naamlik: “Om te erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde” Slegs deur gebed kan ons daardie waarheid glo te midde van ʼn wêreld wat saamspan om God te onderdruk eerder as te verhef.
Die woord wat in die oorspronklike taal vir “bedaar” gebruik word, is ook die woord waarvan vakansie afgelei is.  God nooi ons om ʼn vakansie te beneem, om ʼn ruk lank op te hou om self God te probeer wees en God toe te laat om God te wees.  Om God, God te laat wees vereis van ons om af te sien van die wêreld wat ons so sorgvuldig in stand hou om ons eie saak te dien.  Dan gaan Yancey voort om te sê” As die erfsonde teruggevoer kan word tot mense wat probeer het om soos God te wees, is die eerste stap in gebed om te onthou en te erken dat God, God is – dit wil sê om die hoogste waarheid van die heelal te herstel -sodat die mens kan weet hy leef nie in ʼn selfgeskepte heelal nie(John Milton).

Gebed is om tot bedaring te kom voor God.  Ja stil te word voor Hom. Hom te erken as God en dan te wag en te luister na God.  Onthou dit is nie God wat ons gebede nodig het nie, maar ons wat gebed nodig het sodat ons weer na God kan luister.  Dit sal ons help om nie eie geestelike koninkryk uit te dink en te bou nie, maar aan God se koninkryk mee te werk.

Groete

Quintus

  1. Johannes
    30/04/2010 om 11:16

    Net so ‘n paar gedagtes oor my gebedsreis. In die eerste kwartaal het ons ‘n gebedskursus in ons gemeente aangebied wat my net weer laat besef het hoe belangrik gebed in ‘n gelowige se lewe is. Nie soseer oor die beantwoording van gebede nie, maar vir my verhouding met die Here en vir myself. Ek het oor die jare baie geworstel oor gebed, want hoekom moet ons bid as God dan alles van ons weet en as Hy dan belowe dat die Gees tree vir ons in as ons nie weet wat om te bid nie?; en as God dan almagtig is, is dit dan nie arrogant om te dink dat ons gebede Hom en Sy wil kan verander nie?; en hoekom sal God nou beter luister na die gebede van ‘n klomp gelowiges as na die gebed van een gelowige?; en hoekom is dit nodig om volgens ‘n resep en tyd en struktuur te bid, wanneer God alomteenwoordig is en heeltyd na my luister? En hoekom verhoor God party gebede en ander nie? Ek het oor jare hiermee geworstel en selfs vir ‘n tyd ophou bid. Maar deur dit alles het ek tot ‘n paar gevolgtrekkings gekom, tot op ‘n punt waar ek weer bid en dit selfs geniet en vervullend vind. Ek bid wel anders as voorheen.
    Deesdae vra ek baie min van God, ek deel eerder net met hom wat ek beleef, wat ek voel en waarmee ek sukkel. Soos wat ek dit sal doen met ‘n goeie vriend of met my goeie vrou. Ek dink baie nederiger en minder simplisties oor gebed, want daar is ‘n klomp goed wat ek nooit sal verstaan nie en dis oraait so. En ek verstaan gebed baie meer as die instandhouding en versterking van my verhouding met God – soos my verhouding met my vrou – sy weet alles van my af, maar ek het nog steeds nodig om met haar te kommunikeer ter wille van die versterking van ons verhouding en om te sorg dat ons ”op dieselfde bladsy bly”.
    Ek beleef gebed eerder as asemhaling – iets wat ek heeltyd kan en moet doen, want God is heeltyd by my en ek kan bid wanneer en waar ek ookal wil. Daarmee saam besef ek egter ook die nodigheid van bid saam met ander gelowiges – nie omdat ek glo dit dra meer gewig by God nie, maar aangesien ons kan leer bymekaar, mekaar kan versterk, en omdat dit ons help om minder selfsugtig te wees…en dit hou ons nederig.
    Ek bid ook nie meer omdat ek God wil verander nie – ek reken dis arrogant om dit te doen, veral as mense so begin ‘demands’ maak. Ek bid nou eerder omdat ek glo dat God my in die proses gaan verander. Gebed vat die fokus van my en my selfsugtige behoeftes en wil af weg en help my om op God te fokus – nie my wil nie, maar U wil. En hoe meer ek op God fokus hoe meer word ek verander en hoe meer word sy wil deel van my lewe.
    Laastens glo ek nie meer dat gebed in die eerste plek bedoel is om God sover te kry om ons gebede te verhoor nie (dis ‘n bonus), maar eerder om my verhouding met Hom in stand te hou en te versterk en om my as mens te verander. Trouens ek beleef die oordrewe klem op die verhoring van gebede as ‘n belemmering van my voortdurende verhouding met die Here. Ek is mos nie in ‘n verhouding met God omdat ek iets van hom wil hê nie, ek is in ‘n verhouding met hom omdat dit my ‘n beter mens maak en my lewe sinvol maak. Dit gaan dus nie meer vir my oor die verhoring van gebed nie, dit gaan daaroor dat God my deur my gebede verander.
    So, met dit alles wil ek maar net se dat gebed vir my deesdae baie meer sinvol en vervullend is – want dit gaan oor God nie oor myself nie. Dit gaan oor ‘n verhouding wat heeltyd besig is om te groei en instand gehou moet word. En dit gaan daaroor dat daar nog ‘n klomp goed is wat ek nie verstaan nie – maar dis ook nie belangrik dat ons alles moet verstaan nie. Ons moet maar net nederig en afhanklik bly en erken dat ons weet dat ons nie alles weet nie…en in die proses aanhou bid.
    Vrede
    Johannes Mouton

    Like

  2. Adele
    24/04/2012 om 21:00

    Ek het nie ‘n idee hoe ek hier gekom het nie nie, maar dit wat ek sover gelees het is great!! Soveel vrae in so kort tydjie beantwoord. Dankie en baie seen.
    Adele:-)

    Like

  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: