Tuiste > Bybelse vrae > Feesvieringe (1) Moet Christene ook die Joodse (Bybelse) feeste van die Ou Testament vier?

Feesvieringe (1) Moet Christene ook die Joodse (Bybelse) feeste van die Ou Testament vier?

Feeste is een van die kenmerke van religieuse mense. Regoor die spektrum van godsdienste en gelowe vier mense religieuse feeste. Van die vroegste dae af is feeste en rituele deel van menslike spiritualiteit. Dit vorm ʼn integrale deel van alle godsdienste se spirituele identiteit.
Watter feeste behoort Christene te vier? En moet Christene ook die Joodse feeste van die Ou Testament vier? Dit is enkele vrae waaroor daar net so baie menings as feeste is. In hierdie eerste artikel (1) gaan ek probeer om eers te verduidelik watter feeste Jode gevier het en die relevansie daarvan vir Christene.  ʼn Volgende artikel sal spesifiek oor Christelike feeste handel.

Feeste in die Ou Testament
Vanaf die vroegste tyd is die Joodse jaar gekenmerk deur groot feeste – die “feeste van die Here”. Sommige feeste is gereël om saam te val met die wisseling van die seisoene, om die volk te herinner dat God voortdurend vir hulle sorg en om hulle ’n geleentheid te bied om aan God hul dankbaarheid te betoon.     Tydens ander feeste is groot gebeurtenisse in die geskiedenis van Israel gedenk, die geleenthede toe God op ’n onmiskenbare wyse ingetree het om sy volk te verlos. Al die feeste was geleenthede van heelhartige vreugde en genieting van God se goeie gawes en terselfdertyd plegtige byeenkomste om sy vergewing en reiniging te vra. Dit is opmerklik dat die getal 7 dikwels in al die feeste voorkom. Feeste was deel van die Joodse spiritualiteit. Dit was feeste wat die Tora (Die eerste 5 boeke van Moses)  hulle beveel het om te onderhou (Lev. 23; Num.28; Deut. 16).

Joodse Feeste:

1.Sabbat : Die sewedagsiklus in die daaglikse lewenstyl was van die antieke wêreld af  ʼn gebruik wat ook buite Israel gevolg is. Die Joodse Sabbat was egter ʼn bevel van die Tora. Hierdie opdrag was so streng dat oortreders selfs met die dood gestraf is.
Die Sabbat was die sewende dag en op hierdie dag was werk verbode en die daaglikse offers verdubbel. Hierdie viering het veral verband gehou  met die voltooiing van God se skeppingswerk (Eks. 20:11), die verlossing uit Egipte (Deut. 5:15) en die mens se behoefte aan rus en verkwikking (Eks 23:12). Ná die ballingskap is die reëls in verband met die Sabbat streng toegepas (Neh. 13:15-22), en die nakoming daarvan het een van die uitstaande kenmerke van die Judaïsme geword. Die streng beskouing van die Sabbat het aanleiding gegee tot baie ander wette rondom die Sabbat. Daar word tot 39 hoofsoorte werksaamhede op die Sabbat verbied. Die “Sjabbat” was  nie net ʼn weeklikse feesdag nie, maar al die heilige feeste moes op dieselfde manier as die “Sjabbat” ingerig word.

2. Paasfees (Pasga)- Pesach  (Eks 12:1-20; 23:15). Hierdie fees is gevier om die uittog uit Egipte te herdenk (kyk Eks 11-12). Dit het op die 14de dag van die eerste maand begin en ’n week geduur. Die Hebreeuse woord “Pesach” beteken “verbygaan” en dit verwys na die doodsengel wat die huis met die bloed van die lam oorgeslaan het. Deut. 16:1-8 gee voorskrifte hoe die Paasfees gevier moet word.

3. Fees van die ongesuurde brood (Lev. 24:6; Deut. 16:9-12) Hierdie fees het op die 15de dag van die 1ste maand begin. Dit is gewoonlik saam met Paasfees gevier. Die fees het hulle herinner aan die haastigheid om uit Egipte te trek  toe die deeg nie nog eers kon rys voordat dit gebak is nie (Eks 12:11). Hulle moes na Paasfees vir 7 dae ongesuurde brood eet. Suurdeeg verteenwoordig die sonde – die afwesigheid daarvan dui op reiniging.

4. Sjavuot: Fees van eerstelinge /of die fees van die weke (oesfees) (Pinkster/pentecost) (Num. 28:26; Eks 23:16; Lev. 23:15-21). Dit was ʼn eendaagse fees  wat in die middel van die koringoes en aan die einde van die garsoes as ʼn dankseggingsfees gehou is. Die fees moes Israel herinner dat Israel in Egipte ʼn slaaf was  vandaar die naam “Fees van die weke”. Die fees — later bekend as Pinkster (Die Griekse vertaling van 50 is Pentecost)— is 50 dae na die begin van die Paasfees gevier. Dit was in wese ’n landboufees waar die eerstelinge van die oes aan God gewy is -eerstelinge van oeste en eerstelinge van diere.

5.  Sukkot: Die fees van die insameling (Loofhuttefees)(Eks 23:16; Lev. 23:33-43). Die Sukkot is ‘n herfsfees aan die einde van die insameling van die vrugteoes. Die volk het sewe dae lank in hutte wat van takke gemaak is, gewoon — uit dank vir die oes, maar ook as ’n herinnering aan die dae toe hulle in die woestyn in tente gewoon het (Lev. 23:43).

6. Jaarlikse versoening (Joom Kippoer) (Lev. 16). Hierdie is die hoogtepunt van die Joodse jaar. Op die tiende dag van die sewende maand van elke jaar was daar ’n spesiale seremonie van belydenis en versoening vir sonde. Dit is na aanleiding van die sonde wat op die sondebok gelaai word en in die woestyn ingestuur word . Op hierdie dag bring die priester vir die volk offers en doen boete vir hulle sondes. Hierdie was ʼn heilige dag wanneer die Jode  niks mag doen nie! Vandag nog is dit die groot versoendag waar jy jaarliks moet boete doen vir jou sondes.

7. Sabbatsjaar. Volgens wet het die grond elke sewende jaar braak gelê (Lev. 25:1-7), en elke vyftigste jaar was ’n hersteljaar (Lev. 25:1-7), wanneer eiendom onder verband aan die eienaars teruggegee is en Hebreeuse slawe vrygelaat is.
Daar was waarskynlik baie plaaslike feeste , maar al die mans moes die drie groot nasionale feesvierings bywoon nl. : Paasfees; Fees van weke /oesfees/ en Loofhuttefees.
Al hierdie feeste is beskou as “heilige” geleenthede waarop die gewone werk gestaak is. Daar was ook ander feesvierings (wat almal op die een of ander manier verband hou met die getal sewe).
Ander feeste  was onder andere:

8.  Die Purimfees (Fees van die Lote)(Ester 9) om die redding van die Jode uit die hand van Haman te gedenk. Soms gaan dit gepaard met optogte .
9. Die fees van die tempelwyding (Hanukha) Fees van Ligte (Joh. 10:22) wat die reiniging van die tempel na die ontheiliging daarvan deur Antiogos Epifanes in 168 Ac gedenk . Die Makkabeërs het die Siriërs uitgedryf. Hierdie gebeurtenis het plaasgevind in die tyd tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament. In Joh. 10 word daarvan gemeld. Hierdie is egter nie ʼn Joodse fees wat deur die Tora gebied word nie. Tydens hierdie fees word elke dag ʼn kers opgesteek.

10. Nuwemaan. (Begin van elke maand). Die Nuwemaansfees  word dikwels saam met die Sabbat genoem (bv. Jes. 1:13). Spesiale offerandes (Num. 28:11-15), is besondere kenmerke van die fees van die nuwemaan. Daar was in die vroeë tyd ook spesiale maaltye en gesinsofferandes (1 Sam 20:5, 24), en soms is profete geraadpleeg (2 Kon 4:23).

11. Rosh Hashhana: Joodse nuwe jaar – Judgement / Dag van oordeel

Indien fyn gesoek word sal jy nog feeste wat mense op verskillende tye gevier het raaksien, maar die belangrikste feeste is reeds genoem.

2. Is daar ʼn onderskeid tussen die Joodse geloof en Christelike geloof?

In die nuwe Testament verander die wêreldgeskiedenis radikaal. Die Ou Testament voorspel dat die Messias sou kom. As die Messias egter kom (Jesus) verwerp die Jode hom omdat Hy nie aan hulle verwagting voldoen nie. Jesus word nou die verlosser (Messias) vir enigiemand wat in Hom glo en sy liefdesaanbod aanvaar(Joh. 1:12; Joh. 3:16). Christene kom nou nie meer slegs uit die Joodse tradisie nie maar daar is  nou gelowiges uit alle nasies, tale en kulture wat Christus begin volg. Daar is nou ʼn duidelike onderskeid tussen Jode en Christene. Die Jode (godsdienstig staan hulle bekend as die Judaïsme)  glo dat die Messias nog moet kom, terwyl Christene glo dat Jesus Christus die Messias is.
Dit is belangrik om daarop te let dat Joodse tradisies nie Christelike tradisies is nie. Dit bly Joodse tradisies uit die Joodse geloof – sonder Jesus Christus. Al respekteer Jesus die Joodse tradisie, beteken dit nie dat Christene en Jode dieselfde glo nie. Jesus word  in die Joodse tradisie groot en daar is sterk aanduidings dat Jesus baie goed opgelei was in die tradisie van die Rabbi en op grond daarvan die feeste respekteer. (Luk 2:41-51; Joh. 2:13; Joh 5:1; 7:2 en 10; 12:1-8.).

3. Hoe moet Christene dink oor Joodse gebruike en feeste?

In die Nuwe testament is aanduidings dat sommige van die eerste Christene wel voortgegaan het om sekere feeste te hou (Hand 3:1), maar nooit word dit van hulle verwag nie. Paulus het self sekere Joodse gebruike respekteer (Hand 21)  (want hy was ʼn Jood en het so grootgeword), maar hy gee daaraan nuwe inhoud en demonstreer sy nuwe vryheid. Nooit vra hy dit egter van Heidense Christene (soos die meeste van ons) om dit te vier nie. Paulus is eerder bekommerd dat sekere Joodse Christene so verknog is aan die Joodse feeste dat hy hulle in Gal 4 daaroor vermaan (Gal 4:1-7) Hy moedig hulle eerder aan om die vryheid waarvoor Christus duur betaal het, te vier. In Gal 4:8-11 is hy bekommerd oor nuwe Christene,  dat sy werk dalk tevergeefs kon wees as hulle aanmekaar terugval na die besondere  tradisionele feesgeleenthede. In Gal. 2:12 stel hy dit dat indien ons gered kan word deur die wet te onderhou , sou dit beteken dat Christus verniet gesterf het.  Die Griekse en ander Christene het gee behoefte gehad om die Joodse gebruike aan te neem nie. Hulle het dit nie geken nie.
In die Nuwe Testament is dit egter duidelik dat Christene hulle deur niks of niemand moet laat bind nie . Allermins deur feeste  en gebruike. Die duidelikste gedeelte hieroor is  in Kol. 2:16, 17  “ Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom: die werklikheid is Christus.”

Volgelinge van Christus het  dus die vryheid in Christus om wette of feeste te onderhou of om wette nie te onderhou nie. Dit is ons keuse – elkeen kan vir homself besluit!!! Dit bepaal nie jou verhouding met die Here nie. Dit bepaal selfs nie of jy toegewyd is of nie – Die enigste kriteria wat Paulus noem vir ʼn geheiligde lewe is: Ons moet ons lewe deur die Gees laat beheers (Gal. 5:13-18). Liefde tot God en liefde tot ons naaste is en bly die toetssteen van ons geheiligde lewe. Die belangrikste saak vir enige volgeling van Christus is Jesus. Alles moet om Christus draai. Hy het al die Joodse feeste kom vervul . Dit is opmerklik hoe baie van die heilsgebeure in die tye van die Joodse feeste gebeur het. Jesus het egter ʼn nuwe bedeling ingewy waardeur jy nie salig kan word deur wette en feeste nie , maar alles deur die geloof in Jesus Christus, die opgestane Heer! Ek dink dit is belangrik om die Joodse feeste te verstaan om sodoende Jesus en sy optrede te verstaan, maar ons is volgelinge van Jesus en nie van Joodse gebruike nie.

Die Nuwe Testament is duidelik dat Jesus Christus ʼn nuwe era ingelei het. (2 Kor. 5:17) “Iemand wat aan Christus behoort is ʼn nuwe mens . Die oue is verby, die nuwe het gekom”.
Verder Paulus vertel ook in 1 Kor. 7:17-20 waarom die nie meer nodig is om jou te besny nie en dat heidense gelowiges in die omstandighede moet bly wat die Here vir hom gegee het. Hulle hoef nie van kultuur te verander nie. Paulus verwag nie van heidene om nou Joodse gebruike aan te neem nie. Hulle hoef nie die Mosaïese wette na te kom as nuwe gelowiges nie,  want hulle kom uit die heidendom.

Moet Christene die Joodse feeste vier? Nee, maar hulle kan dit vier, indien hulle daaraan Christelike inhoud gee. Daar is egter  geen reël wat dit gebied of verbied nie. Paulus is egter bekommerd dat dit kan veroorsaak dat Jode weer terugval in ou gewoontes. Baie Messiaanse Jode doen dit vandag nog. Dit was egter feeste vir die Jode en nie vir die Christene nie. Christene uit die heidendom  het nie eers die feeste geken nie en het geen erg daaraan gehad nie. Dit was net vir Joodse Christene, wat in die minderheid was belangrik. Die vroeë kerk was nogal ernstig daaroor dat dit juis nie gevier moet word nie (daaroor volgende keer meer).
Al die Joodse gewoontes was maar aanduidings dat Christus sou kom.  Kol 2:17 “Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom: die werklikheid is Christus.”
Vir Christene is die beginsel dat die radikale liefde van Christus elke dag ons rigsnoer moet wees. Geen wet of fees of ritueel kan dit vervang nie ( Mat. 5-7).

Quintus Heine

  1. Nog geen kommentaar nie.
  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: