Tuiste > Bybelse vrae > Opstandingsfees is die belangrikste fees vir Christene (Feeste 2)

Opstandingsfees is die belangrikste fees vir Christene (Feeste 2)

In Christelike kringe word die vraag dikwels gevra of ons nog op Bybelse koers is omdat ons nie meer Joodse feeste soos die sabbatdag vier nie. In die vorige artikel het ek probeer aandui hoekom ons nie meer Joodse feeste hoef te vier nie. Hier probeer ek aantoon watter Bybelse fees ons behoort te vier!!!
Vir baie mense klink dit wat ek hier verduidelik na algemene kennis. Dit mag so wees. Die probleem is dat indien iemand dit wat ons elke dag beleef en doen iewers neerskryf en motiveer nie, klink ekstreme standpunte vir mense al hoe helderder. Ons moet maar voordurend vir mekaar herinner waarom ons dinge doen wat ons doen – dit help ons ook om voordurend selfondersoek te doen en te groei.

1  Waar kom die Opstandingfees vandaan?

Die belangrikste fees wat die eerste Christene gevier het, was die opstanding. Die opstandingsfees was ʼn nuwe fees wat die identiteit van ʼn nuwe radikale geloofsgemeenskap bevestig het. Vandag noem ons dit Sondag.
Dit was die enigste fees wat die vroeë Christene gevier het. Dit het natuurlik baie verskil  van die Joodse Sabbat. Die Joodse Sabbat was ʼn fees op die 7de dag, maar die Christelike opstandingsdag was ʼn nuwe fees met nuwe inhoud op die eerste dag van die week.
Aanvanklik het hulle die opstanding elke dag gevier (Hand. 2: 46, 47). Dit was vreugdevolle vierings. Hulle het daagliks bymekaar gekom, saam geëet, gebid en hulle onderlinge verbondenheid was vir hulle kosbaar. Justo Gonzalez wys in sy boek “ The story of Christianity” daarop dat die eerste gelowiges nie op die “Goeie Vrydag” gebeure gefokus het nie, maar eerder op die opstanding. Daar het ʼn nuwe werklikheid vir hulle aangebreek en Christene het dit met albei hande aangegryp en dit hulle eie gemaak. In die vierings was die gemeenskaplike maaltyd altyd belangrik en was dit meer as bloot ʼn formele “nagmaal”. Die koinonia was  vir hulle belangrik. Hulle het die fees daagliks gevier, want dit was ook ʼn viering van die nuwe hoop. Christene het in die begin ʼn eenvoudige kalender gehad. Dit was ʼn basiese weeklikse kalender, waarop die eerste dag van die week die vreugdevolle feesdag geword het waarop die opstanding van die Here gevier is. Baie Joodse Christene het daarby  nog steeds die Sabbatdag op die 7de dag as rusdag gevier en dit gerespekteer, maar aanduidings was dat die bymekaarkom op die opstandingsdag was. HDA du Toit wys in sy destydse boekie “Laat ons dan feesvier” daarop dat die Sondagviering  die eerste tekens was dat die vroeë kerk hom wou losmaak van die Joodse tradisie en feeste. Jesus Christus het op die 1ste dag opgestaan uit die dood en dit is die grootste gebeurtenis wat die Christendom uniek maak.

2. Van Opstandingsdag tot Sondag

Die oudste beskrywing van die Christene se viering van die eerste dag van die week, kry ons in Hand 20:7 waar Paulus op die eerste dag van die week nagmaal bedien het en die gemeente toegespreek het. In 1 Kor. 16:2 word Christene opgeroep om op hulle byeenkoms die eerste dag van die week ʼn bydrae te gee vir ʼn arm gemeente in Jerusalem. By die eerste Christene het die  opstandingsdag het bekend geword as die “dag van die Here”.  (vgl. Openb.1:10 ).
* Daar is geen wet of reël dat Christene nou die Sondag moes vier ipv die Sabbat nie, maar dit was duidelik dat die Christene uit die heidendom (dws. Christene van nie-Joodse afkoms) die 1ste dag van die week as dag van samekoms beskou het. Hulle het geen gevoel vir die Joodse Sabbat gehad nie. Hulle het dit ook nooit geken nie. Die Christene uit die Jode het natuurlik weer probeer vasklou aan die Sabbat, en tot in die 3de eeu N C was daar nog aanduidings dat hulle ook die Sabbat as rusdag (naas die Sondag) onderhou het. Vroeë Christene het dus twee dae in week gehou nl. die rusdag op die Sabbat en die samekoms van gelowiges op die Eerste dag.
Daar is baie bewyse uit die vroeë kerk dat die dag van samekoms van gelowiges op die eerste dag van die week was:
–    Du Toit verwys na Ignatius van Antiochië wat gesprekke met Polycarpus, die vriend van Johannes gehad het, Hy skryf in 110 NC “ Laat elke vriend van Christus die dag van die Here soos ʼn feesdag hou, soos die opstandingsdag, die koning van al die dae – die vernaamste dag”
–     Barnabas, ʼn apostel van die Here skryf in 100 NC “ Daarom hou ons die eerste dag die dag met blydskap- die dag waarop Jesus opgestaan het uit die dood”
–     Irenaeus skryf in 150 dat die opstanding van die Here op die dag gevier moet word.
Dit was egter  Justinus, die martelaar wat  in 150NC die eerste een gewees wat die eerste dag ʼn Sondag begin noem het.

3. Hoe is die Sondag as feesdag gevier?

Die eerste dag (Sondag) was nie ʼn vakansiedag soos wat ons dit vandag ken nie. Dit was ʼn gewone werksdag. Christene het op die opstandingsdag voor dagbreek en in die aand na skemer vir gemeenskaplike maaltyd bymekaar gekom, omdat hulle bedags moes werk. Met die oggend en aand bymekaarkomtye het hulle ook teruggegryp na die Joodse gebruike om soggens vroeg en in die aande saam te bid. Nie in die Skrif of by die vroeë kerkvaders kry ons  ʼn gesindheid om arbeid te staak op die Sondag nie.
Christene het eers 300 jaar NC vir die eerste keer ʼn “Christelik gesinde owerheid ” gekry. Konstantyn vaardig in 337 ʼn wet uit wat vir Sondag ʼn vrye dag maak vir alle amptenare , sodat hulle tyd kan kry om bymekaar te kom. Eers later in die Middeleeue word Sondag ʼn amptelike rusdag.
Uit Hand. 2: 46, 47 is dit duidelik dat die  elemente van erediens wat ons vandag nog vier teenwoordig was. “Hulle het elke dag getrou by die tempel bymekaar gekom (leitourgia), van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet(koinonia) en elke dag mense wat gered word  by die gemeente gevoeg (kerugma). Vers 42 : Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels (didaché), en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd (koinonia) en die gebede.
Volgens Gonzalez was die mees uitstaande kenmerk van die vroegste bymekaarkoms en gemeenskaplike maaltye, die feestelikheid daarvan. Dit was eerder gekenmerk deur die viering van  genade en vreugde, as wat daar gedink was oor somberheid en bekering. Die nagmaal was ook deel van ʼn volle maaltyd . Gelowiges het elkeen gebring wat hy kon om te eet en dat het hulle spesiale gebede gebid voor hulle wyn gedrink en brood geëet het. Hoewel die vreugde en feestelikheid van die geleenthede nooit getaan het nie, het dit in die 2de eeu NC meer simboliese “nagmaal” etes geword. Vanaf die tweede eeu het die “Nagmaalsdiens”  uit twee dele bestaan: Eers is daar uit die Bybel gelees en gebid en gesing en dan is die “gemeenskaplike maal” geëet met nog gebede daarna . Ons moet onthou dat almal nie Bybels gehad het nie. Die Sondag byeenkomste was gebruik om die Bybel te verklaar en te leer ken.

4. Nog interessanthede oor die Sondag as feesdag.

Aanvanklik het hulle in huise bymekaar gekom, maar later het dit te klein geword en het sekere  huise spesiale plekke van aanbidding geword. Hoewel Frank Viola in Pagan Christianity ʼn saak uitmaak dat kerkgeboue eers vanaf Konstantyn se era begin het, was daar baie vroeër aanduidings dat Christene plekke van aanbidding gehad het in lyn met die Joodse agtergrond van tempels en sinagoges.
Nêrens lees ons in die Nuwe Testament van  ʼn wet dat hulle Sondae bymekaar moet kom nie. Hulle het dit spontaan gedoen omdat hulle die opstanding wou vier. Dit is net in Heb. 10:25 waar daar ʼn opdrag is om die onderlinge byeenkomste by te woon. Sondae  is nooit in die vroeë kerk met die 4de gebod verbind nie. Dit is eers deur die kerkvaders Chrusostomos (344- 407) en Ambrosius(339-397) gedoen. Miskien was dit juis die oorsaak waarom latere Christene die indruk gehad het dat die wette oor die Sabbat ook vir die Sondag gegeld het. Die vierde gebod het nie met die Sondag iets te doen nie. Daar is nooit sprake in die Nuwe Testament van rus op ʼn Sondag nie. Die Sabbat is die sewende dag, ʼn rusdag , maar die Sondag is die eerste dag, ʼn feesdag, waar Christene deur die eeue die opstanding van Jesus vier! Johan Heyns verduidelik in sy boek “Die nuwe mens onderweg”  dat die Sabbat nie die verlenging van die Ou Testamentiese Sabbat is nie, tog is die twee nie sonder enige verbindingslyne nie. Die Sabbat was die teken van God se verbond met Israel. Die Sondag is ʼn teken van God se verbond met sy nuwe volk. Die Sabbat het sy motivering in die skepping en verlossing gevind- hierdie motiewe speel ook ʼn rol by die Sondag. Die Sabbat was ʼn feesdag , die Sondag ook. Christus verklaar self dat Hy nie die gebooie ophef nie, maar vervul. Heyns het verduidelik dat die kriterium vir die Sondag is: “Hoe om die beste fees te vier ter herinnering aan die verlossing deur Jesus Christus “
Dit is ook van belang om op te let dat die eerste Christene, asook die vroeë kerk nie ander feeste gevier het nie. Gonzalez vertel dat elke Sondag vir die vroeë Christene ʼn feesdag was waar die opstanding gevier is en dat hulle Vrydae bymekaar gekom het om die hartseer en die sonde te bely (nav van die kruisiging). Later het hulle een spesifieke Sondag in die jaar afgesonder om die opstanding te herdenk. Die enigste fees wat die vroeë Christene gevier het, was die opstandingsfees (die fees op ʼn Sondag).
Maarten Luther het sterk aksent daarop gelê dat die ou verbond niks met die nuwe te doen het nie en dat die Sabbat afgehandel is. Calvyn het weer klem daarop gelê dat daar wel kontinuïteit tussen die twee bestaan. Die Joodse wyse om in die aande ook bymekaar te kom, het ook meer byval by die Calviniste as by die Lutherane gevind.

5.   Hoe moet ons nou die Sondag vier?

Daar is twee uiterstes en iewers moet elkeen vir homself  ʼn gebalanseerde en Skriftuurlike weg vind.
Die een uiterste wil ons weer onder die juk van die wet plaas. Selfs in Paulus se tyd het hy sulke mense geken (Gal 4:9,10). Hulle wil weer hê daar Sondae reëls moet wees wat mag jy en wat mag jy nie. Paulus was hieroor nie onduidelik nie:  Kol. 2:16 en 17. “Daarom moet julle nie dat iemand  vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie: die werklikheid is Christus”.
Die ander uiterste wil weer  niks doen nie en geen fees vier nie. Dit is ook nie na voorbeeld van die Nuwe Testament nie (Hand 2:46, 47 ). Dit is duidelik dat gelowiges gereeld op die eerste dag bymekaar gekom het. Heb. 10:25 vermaan gelowiges wat dit nie doen nie.
Persoonlik handhaaf ek die volgende 4 beginsels:
Ek dink ons is bevoorreg dat Sondag steeds ʼn dag is waarop ons nie met alledaagse dinge hoef voort te gaan nie. Dit is egter ʼn dag waar ons nie vir mekaar moet reëls maak nie, maar vir mekaar aan Jesus se opstanding kan herinner. Dit moet net oor Jesus gaan(1 Kor. 2:2). Hy het opgestaan. Die Satan is oorwin!

•1. Dit is in eerste en belangrikste plek  ʼn feesdag – die opstandingsdag. Die dag wanneer Christene kerk toe moet gaan om fees te vier. (Die opdrag kry ons  in Heb. 10:25 dat ons wel op die dag as gelowiges moet saamkom). Hy leef. Dit is vir my die een groot prioriteit om saam met medegelowiges Sondae te kan feesvier!
•2. Ek beskou dit ook as ʼn belydenisdag. Dit is ʼn belydenis dat die dag anders is as ander dae. Hy is nie heiliger nie maar anders, daarom probeer ek dit anders inrig – Ek wil van die dag ʼn persoonlike en simboliese belydenis maak: Ek wil vir almal sê:     “Hierdie dag is ʼn dankbare dag wat ek weekliks wil vier. Nie omdat ek moet nie, maar omdat ek wil!” Dit is dus vir my ʼn belydenisdag – ʼn simboliese dag.
•3. Dit is vir my ʼn rusdag van die normale sodat ek meer fees kan vier: Onthou Saterdag en Sondag is rusdae Ons het in die Westerse wêreld ’n 5 dag werksweek, danksy die Industriële revolusie.
•4de saak. Een saak wat ek van die Jode af oorgeneem het, is dat ek dit as ʼn familiedag beskou. Ek probeer in die gejaagde lewe ʼn punt maak om my gesin aandag te gee en bymekaar te kry. Ons probeer meeste saam kerk toe gaan en saam eet en saam kuier! Dit is vir my baie kosbaar.

Vir die eerste Christene was Sondag – opstandingsdag. Kom ons doen hulle dit na!
Quintus

  1. Nog geen kommentaar nie.
  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: