Tuis > Aktueel > Ken jou geitjies!!!!

Ken jou geitjies!!!!

In die Mtunzini omgewing is daar blykbaar ‘n gastehuis wat ‘n gewilde
oornagplek vir oorsese toeriste geword het. In Natal kom daar geitjies voor
wat snags in die huis inkom om muskiete te vang. Plaaslike inwoners pla
hulle glad nie, omdat hulle ‘n belangrike skakel in die ekologie is; maar
baie oorsese besoekers gril maklik vir die goedjies.

Die eienaar van die gastehuis het dus in die gewoonte gekom om gaste vooraf
van die geitjies te vertel en ook om te se dat hulle onskadelik is en nie
sal pla nie. Saam met die vertelling is daar dan altyd ‘n beskrywing: plat
lyf met pote aan die kante daarvan, effens spits kop met ogies wat aan die
kante van die kop sit, en ‘n langerige stert. Moet hulle asseblief nie steur
nie, want as hulle skrik, kan hulle maklik hulle sterte afgooi, en behalwe
dat dit vir hulle baie pynlik moet wees, is hulle enigste
verdedigingsmeganisme teen gevaar dan daarmee heen. Hulle kan dan baie
maklik self prooi word. So verseker die gastehuiseienaar dat toeris en
geitjie ongesteurd dieselfde ruimte kan benut en langs mekaar elkeen met eie
dinge kan aangaan.
Eendag is daar ‘n Nederlandse vrou wat inboek. Die eienaar gee, soos
gewoonlik, sy les oor die geitjies, asook sy telefoonnommer met die
uitnodiging dat sy hom kan skakel as sy iets nodig het.
Nie lank daarna nie bel sy en se daar is “een skatlik geitje” in die chalet.
Huisbaas verseker haar: “Wees net rustig, Dame; die dingetjie sal jou nie
pla nie. Hy soek maar net na muskiete.” Hy gaan weer met haar deur die
beskrywing en bevestig dat hulle skadeloos is. Sy verstaan “heel mooi”. Die
geitjie in haar kamer is net soos hy dit beskryf het.
Vyf minute later bel sy weer, hierdie keer met ‘n meer benoude stem. Die
“skatlik geitje” klim nou teen die meubels uit, en sy weet nou nie of sy
daarmee heeltemal gemaklik is nie. Die huisbaas is nou al redelik
geirriteerd,
en begin stilweg dink dat hy dalk eerder op Franse toeriste moet
konsentreer: met hulle kan hy altyd maak asof hy hulle Engels nie verstaan
nie; maar Nederlands is darem te naby aan Afrikaans om bewusteloosheid te
pleit.
“Dame, dit is normale gedrag vir ‘n geitjie. Hulle klim teen goed op om die
muskiete by te kom; maar as dit u erg pla, neem die besem en vee die
dingetjie by die deur uit.”
Nie drie minute nie, toe bel sy hom weer, nou heeltemal histeries. Met groot
moeite kry hy haar tot bedaring sodat hy kan verstaan wat sy probeer se:
Nederlands is nou wel een van ons stamtale, maar as dit hard en vinnig deur
‘n opgewonde mens gepraat word, verg dit ‘n geoefende oor om uit te maak wat
aangaan.
Sy staan nou bo-op die tafel. “Het vermaledyde geitje” het die besem by haar
afgeneem en is nou besig om met die ding in sy bek rond te stap. As hy haar
nie nou dadelik kom red nie, sit sy die hele VVO, FBI, KGB en elke ander
instansie waaraan sy kan dink, op hom.
Selfs die huisbaas besef dat dit darem nou nie soos jou standaard geitjie
klink nie, en hy le rieme neer chalet toe. Daar vind hy toe ‘n baie kwaai en
vies twee-meter-lange likkewaan wat nie met ‘n besem uitgevee wil wees nie!
Na ‘n stywe dop brandewyn en ‘n paar glase suikerwater vir die skok, kom die
toeris se sin vir humor toe darem ook na vore. Nee, vertel sy, toe sy die
“geitje” die eerste keer sien, het sy gewonder: as die geitjie so groot is,
hoe groot moet die muskiete dan nie wees nie, en gaan hulle haar sommer daar
in die kamer doodsuip, of gaan hulle haar eers na hulle nes toe saamneem?!

KategoriëAktueel
  1. 03/02/2011 om 11:26

    LOL, ek verpes geitjies. Soos in ek slaan in koue sweet uit en my beenhare begin onbeheersd groei.

    Brannewyn gaan nie eens help nie.

    Like

  2. Son
    03/02/2011 om 13:30

    😆 Ek het een aand in my huis soos ‘n mal mens geskree omdat ‘n geitjie van die gordyn af op my kop geval het toe ek die gordyn wou toetrek. Ek dink die hele buurt het gedink daar is moord iewers! Ek gril my in ‘n ander bloedgroep in vir daai goedjies.

    Maar met die huidige hitte en muskiete sal ek dalk nie omgee om ‘n geitjie in my kamer te hê nie

    Like

  3. Q
    03/02/2011 om 13:47

    Ek het omtrent geglimlag toe ek Skoor en Son se reaksie lees. In my huis word geitjies spesiaal behandel. My vrou het tot ‘n skets van ‘n geitjie teen die een muur gemaak – seker om ons altyd te herinner – hulle is OK! Ek is selfs vir die kat vies as sy die dag met geitjie in die bek die huis binnestorm. As ek die deur oopmaak en daar is ‘n geitjie sal ek hom saggies uit uit die pad stoot sodat hy nie moet seerkry nie! Weet nie af hulle vliee ok vang nie, want dit sou hulle waarde verhoog het!!

    Like

  4. 21/10/2023 om 14:40

    Ek is so mal oor ‘n geitjie! Ek wil my verkyk as hulle jag.

    Like

  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar