Here ek bid vir ons land!

14/07/2021 1 comment

‘n Paar jaar terug – Toe ons land ook in warboel was – het ek die gebed geskryf – Ek het dit weer vandag gebid!

O Here ek staan vandag voor U, omring deur ʼn veelheid van emosies. Heeltyd bewus van dit wat ek hoor en sien – wreedheid, uittarting, wraak en hartseer. Ek voel aan hoe mense rondom my bang, onseker en bedreig is. Saam met hulle het ek soveel vrae en so min antwoorde.
Terselfdertyd gaan my gedagtes terug na Goeie Vrydag waar ek daaraan herinner is dat U al my skuld betaal het. Daar het U my weer gedring om die sondekleed wat so aan my vasklou uit te trek en voor U neer te sit.

Ja Here – by die kruis het U my kaal gestroop van my eie pretensies en eie geregtigheid wat ek so graag in stand hou. U het my gestroop van gedagtes dat ek ʼn goeie mens is, van  gedagtes wat my tot hoogmoed teenoor misdadigers verhef.

U het my voor die kruis laat buig waar ek net kon uitroep – Here wees my genadig!

Dankie Here vir die derde dag – Opstandingdag.

U het my weer opgehef, klere aangetrek. Hierdie keer was dit Koningsklere, u klere – die klere van liefde, die klere van genade, sagte inklusiewe klere!

U het my ook nuwe oë gegee waarmee ek anders kan kyk.

U het my nuwe voete gegee waarmee ek nuwe paaie kan loop,

Nuwe gedagtes waarmee ek anders kan dink,

Nuwe ore waarmee ek anders kan hoor,

Nuwe oordeel waarmee ek nie meer veroordeel nie,

Nuwe vrede wat al my vrese verdryf.

O Heer – ek bid dat U ons in die moeilike emosionele tyd  so vol van u liefde sal maak, dat daar nie plek vir ons eie wraak is nie. Dat U ons vol van u vertroue sal maak dat ons nie sal vrees nie. Dat U so ons vol van u vrede sal maak dat ons in vrede met mekaar sal leef!
Dankie, Here, dat ons vandag selfs in die warboel van emosies u troos kan ervaar. Dankie dat ek my hande in u hande kan plaas.
Amen.

KategoriëGebede Sleutelwoorde:, , ,

My eerste nadenke oor die hele WhatsApp / Facebook gedoente.

11/01/2021 Lewer kommentaar

Ek is nie iemand wat my veel steur aan samesweringsteorieë ens nie. Ek probeer altyd die positiewe en hoopvolle in alles en almal raak te sien (ek sukkel ook maar soms daarmee). En as ek nie daarin slag om hoopvol na iets te kyk nie, probeer ek soveel moontlik lees en nadink daaroor. Soms moet ons maar net ons gesonde verstand gebruik en probeer om te kyk watter voordele daar in ʼn saak is en hoe om jou risiko te beperk. Ek is ook ten volle bewus dat die meeste van my persoonlike inligting deur die kuberruim maklik op te spoor is. Dit is egter belangrik om nie met oogklappe deur die internet-wêreld te stap nie, want daar is baie skurke wat heeltyd rondloop om te kyk wat hulle van jou kan vat as jy nie kyk nie.

Eers oor Facebook: Ek geniet facebook deur die jare oor ʼn paar redes: Dit het my in staat gestel om sosiaal met verskillende mense kontak te maak en doen dit steeds. Ek het nuwe mense leer ken maar heelwat ouer vriende wat deur die jare weggeraak het weer gevind. Ek word deur facebook aan baie interessante dinge en mense blootgestel. Ek kan self hier en daar ʼn mening lug – soos hierdie meningstuk van my. Daar is baie strooi op facebook, maar ek is darem groot genoeg om te onderskei wat belangrik is of nie.

Facebook se waarde is daarin dat ek foto’s deel, menings deel, grappe deel en soms ʼn irritasie of opgewondenheid deel. Om met mense kontak te maak en ʼn facebook netwerk op te bou is nie te versmaai nie. So -om op te som – Ek geniet facebook.

Om facebook te geniet en die positiewe daar uit haal, het ek geleer om my risiko te beperk. Ek het die volgende maatreël vir myself gestel: * Facebook het nie my selnommer nie, slegs een epos adres * Ek sal nooit privaatinligting wat nie in die openbaar bekend is sommer op facebook plaas nie. * Ek blaker nie my reisplanne en datums in detail daarop uit nie. * Ek sit nie my woonadres daarop nie (hoewel baie van die inligting nie moeilik bekombaar is sies- * Ek probeer my risiko van spammers beperk deur nie toe te laat dat enigiemand my vriende kan sien nie. Het lank reeds die Messenger funksie ignoreer want jy kan dit nie meer afskakel nie. * Niemand anders kan op my tydlyn enigiets skryf sonder my toestemming nie * Ek kliek nie sommer op advertensies op facebook nie en moedig ook nie  negatiewe nuus aan nie. *Ek mors ook nie my tyd deur ure met mense in sinlose argumente betrokke te raak nie. So met die maatreëls in gedagte – geniet ek facebook.

Ek het verlede jaar die film “the social dillemma” op Netflix gekyk en die gevaar en skrikwekkende impak wat facebook op my denke en leefstyl kan hê besef. Met dit heeltyd in gedagte wil ek facebook gebruik. In die fliek het ek ook bewus geword dat Amerika besig is met wetgewing om sosiale media te probeer beperk ook die inligting wat hulle van mense versamel en die gebruik daarvan.

Wat van WhattApp?  Ek het dit nog altyd as ʼn suiwer kommunikasiemiddel gebruik. Hierop het ek vriendegroepe en werksgroepe wat maklik kommunikeer, persoonlike blits boodskappe vir my gesin en vriende gestuur. Ja ek het soms self rekening en bankstate daarmee aangestuur omdat ek nog heeltyd die versekering gehad het dat die inhoud gekodeer is. Dis ook lekker om hier die daar ʼn videoclip wat snaaks of ernstig is vir my persoonlike kringetjie aan te stuur. Ek gebruik dit dus anders as facebook. Ek het niks om weg te steek nie en is nog nooit uitermatig oor enigiets  bekommerd nie.  

Daar is iets wat my nou begin pla en dit is vir my skokkend dat ek nie voorheen meer versigtig was nie. Hoekom is daar wetgewing waaraan facebook en Whattapp en alle ander openbare instansies aan moet voldoen? Die wetgewing is daar om persoonlike inligting te beskerm omdat dit misbruik kan word en kan hand uitruk. As WhatsApp tot nou toe nie aan daardie wetgewing voldoen het nie en nou gedwing word om daaraan te voldoen – moet mos rooi ligte laat aangaan.  Dit is nie die advertensies wat my pla nie (dis die prys van die gratis gebruik van die media) . Hulle hou jou internet bewegings al lank dop en die sisteem is so geprogrammeer  om jou te voer met die advertensies en videoclips wat hulle graag wil hê jy na moet kyk. Ek dink aan die nuwe dinge waaraan ek nog nie gedink het nie. Hoekom wil hulle my WhattApp inligting met facebook deel?  Gaan dit word soos Messenger (van facebook) – omdat hulle gesien het,  Messenger werk nie goed nie? Gaan my kontakte –se inligting,  wat ek nog altyd teen die openbare facebook probeer beskerm het- steeds beskermd wees? Daar is tog verskil aan die inligting wat ek op WhatsApp beskikbaar stel  en dit wat ek op facebook gebruik. Wie weet? Ek is die laaste een wat wil weghardloop met iets , maar het ook ʼn verantwoordelikheid om goed oor dinge na te dink. Ek besef ook dat ons soms te vinnig dinge aflag, sonder om goed daaroor te dink!

As ek willens en wetens toestemming gee dat my inligting gebruik kan word waar die wetgewing my teen wou beskerm – wil ek graag twee keer dink. Ek wil ook weer gaan dink aan al ander die kere op internet waar ek net “agree” gesê het om iets verby te kry.

So wat ek gaan doen weet ek nog nie – Maar ek is bly dat ek ten minste met al die bohaai kans gegun is om weer na te dink wat ek met die sosiale media wil deel, want almal daarbuite se motiewe is nie bloot advertensies nie.

Mooi loop

KategoriëUncategorized Sleutelwoorde:

Die Covid-19 app: negatief of positief

18/09/2020 Lewer kommentaar

Wat my soms verstom is die mensdom se gewilligheid om maklik opgesweep of negatief beinvloed word. Iemand kan een negatiewe boodskap deel en dan “share” 100de dit , maar as jy ‘n positiewe boodskap deel betwyfel hulle dit.Een goeie voorbeeld is nou weer die ondeurdagte deling oor die Covid-19 app. Skielik is almal bang omdat hulle glo getrack word , maar vergeet die oomblik wat hulle hul selfoon aansit-dan kan hulle “getrack” word. Die app is ‘n eerlike poging wat wereldwyd gewerk het om die covid19 te bekamp. In Nieu-Zeeland is dit een van die instrumente wat suksevol gebruik is . Dit werk so: Die app vra glad nie ander mense se inligting nie. Die app werk slegs op bluetooth en spoor net mense op binne jou bluetooth opvangs-gebied op. Jy kies ook self om te merk of jy Covid positief is dan sal almal wat ook die app het, kan sien :Hier is ‘n Covid Positief naby hulle en maak dat hulle wegkom!!! . Dit kan net werk as almal dit gebruik. Op die oomblik is daar te veel fake nuus in die omloop so ek twyfel of dit dan effektief sal wees. Mense jaag mekaar se gemoedere op oor niks. In plaas dat hulle op ‘n klomp positiewe dinge fokus en vir hulle medemens laat fokus op die positiewe uitkomste van baie covid reelings -of gaan lees eerder ‘n boek of stap of hou jou asb besig. Nou is hulle ontsteld omdat iemand hulle dalk gaan track. Nou vra ek myself af : As iemand my nou sou wil track – Wat gaan hulle met my maak as hulle my getrack het – As mense bekommerd wil wees -Wees eerder bekommerd oor Facebook of jou eie internetgebruik – Kyk op netflix na ” The Social Dillemma” As jy nou wil skrik- dan sal jy daar rede sien om meer versigtig te wees! Ek dink ons moet so bietjie gaan loer wat die Here vir ons in sy Woord leer – dan lees ek dat ons elke dag positief moet gebruik. en ons denke op ‘n nuwe lewe saam met Christus te stel. Kom ons dink ‘n bietjie logies oor alles wat ons so “versprei” en probeer eerder ‘n positiewe verskil maak elke dag met almal wat oor ons pad kom!!

KategoriëAktueel

Hoe wil ek oorleef in hierdie tyd?

29/07/2020 Lewer kommentaar

Sonder dat ek dit bedoel- groei daar die afgelope tyd ʼn onrustigheid in my oor alles wat rondom ons aan die gebeur is. Ek hoef nie die wêreld waarin ons probeer leef ten volle te skets nie. Met die Covid-19 pandemie ervaar ek uiterstes in die samelewing. Daar is mense wat uitermatig paniekerig, maar ander wat weer onnodig onverskillig daaroor is. Ek hoor van die hartseer van mense wat hulle geliefdes agv die pandemie aan die dood moes afstaan. Ek sien ook dat die staat in baie gevalle onstellend twyfelagtig optree met vreemde reëls. Die politieke woelinge en bewerings van korrupsie, werkloosheid en mense wat net nie kos het om te eet nie. Mense wat ek ken wat hulle werk verloor. Sport wat een van die groot nasiebou faktore is – word weer soos in die verlede gekaap deur politiek. Mense wat doelbewus rassehaat in die tyd aanblaas. Georganiseerde opstande en afbrand van duurbetaalde fasiliteite. Wanorde en die staat se onvermoë om sterk leiding te neem oor wet en orde. Die staat wat voor gewelddadige taxi-geweld en unies buig maar vreedsame optogte van die gasvryheidsbedryf met geweld uitmekaar jaag. Hoe die eende wat goue ekonomiese eiers lê onverstaanbaar doodgemaak word. Doelbewuste en wrede plaasmoorde op blanke boere wat toeneem. Geweld en moorde in sommige oorwegend swart en bruin woonbuurtes wat ontstellende hoogtes bereik. Bendes met donker balaklawas wat oor mure klouter. Geweld teen vroue en kinders is skrikwekkend. Onskuldige kinders wat in bende-spervuur beland. So sou ek seker nog hoofstukke oor hierdie tipe waarnemings kan skryf.

Ek sien egter ook die volgende: Mense wat hulle hande af werk om vir ander wat swaarkry te sorg. Mense wat planne maak as hulle hul werk verloor. Gelowiges wat toegewyd die Here dien – al kyk ʼn paar beterweteriges met hoogmoed na hulle met die gesindheid van “Glo julle nog daaraan?” Ek sien kerke en gemeentes wat nuwe energie gekry het om mense met kos en ander noodsaaklikhede te ondersteun. Gewone mense op straat wat getrou die onsekerheid van openbare vervoer betree en werk toe gaan omdat hulle ʼn gesin het om voor te sorg. Mense wat eerder in asblikke soek vir oorskietkos – as wat hulle steel. Ek sien ʼn president en regering wat merkbaar moeg en oorlaai is en ten spyte van alles wat negatief inwerk tog daarin slaag om die land (al is dit hoe wankelrig) staan te maak. Ek sien gesinne wat in die tyd besef hoe kosbaar hulle vir mekaar is. Ek sien jong Pa’s en Ma’s en enkelouers saam met hulle kleuters in die strate stap en mekaar met positiewe energie liefhet. Jongmense wat beplan en opgewonde is oor hulle toekoms. Ek sien die meerderheid mense van alle rasse en klasse wat op straat gemoedelik is met mekaar, grappies maak en weet “Ons is saam in die ding-maak nie saak wie jy is nie” Ek sien mense wat goedig saam met mekaar lag. ʼn Taxi-drywer wat vol humor vir my as verbygaande voetganger se hande met sanitasie kom spuit. Mense wat hard werk om siekes en oues te versorg. Ja – mense wat hulle gawes aanwend om ʼn positiewe bydrae te maak. Landbouers en fabrieke wat getrou vir die land kos gee. Ek sien mense wat aangaan met hulle dagtaak en nooit kla of skinder nie. Ai, – daar is nog so baie wat ek kan opnoem.

Ek beweer nie my waarnemings is noodwendig vir almal die waarheid nie – maar dit is wat ek sien en rondom my ervaar.

Met die herinner ek myself weer: Dat die manier hoe ek na die wêreld kyk, my denke en ervaring oor die wêreld gaan bepaal. Ek wil steeds ʼn keuse maak om nie te verdrink in negatiewe denke nie. Maar sal met ywer voortgaan om die volgende dinge te probeer doen-al sukkel ek soms hoe daarmee:

Ek wil:

  • steeds elke oggend tydens stiltetyd, een nuwe saak opnoem en vir die Here daarvoor dankie sê. Ek wil dit ʼn paar keer in die dag hardop sê en daaroor opgewonde wees.
  • vir die Here vra om my eie gebrekkige insigte – vir my uit te wys en my te help om die werklikheid anders te bekyk.
  • na my gewete luister en dinge aanspreek -wat ek glo, verkeerd is.
  • steeds elke dag teen negatiewe denke veg en myself nie toelaat om die negatiewe te laat nesmaak nie. – Glo my – dit is soms ʼn taai geveg- maar ek moet deur oefening – fiks word om my denke op die mooi en positiewe dinge te plaas.
  • nooit toe laat dat my vermoë om die humor in die lewe raak te sien- afgestomp raak nie.
  • doelbewus daarop ingestel wees om die lewe vir ander beter te maak.
  • die daaglikse werk wat aan my toevertrou is, met dankbaarheid en toewyding doen.
  •  steeds elke dag vir die president, sy kabinet en die res van die regering te bid.
  • dankbaar wees vir my geliefdes rondom my, vir die kos en dak oor my kop, wat ek soms so vanselfsprekend aanvaar.
  • nooit ophou droom en planne maak nie.
  • myself daaraan herinner dat alles – ja alles genade is en dat ek dit gratis ontvang het deur Christus. Daarom kan ek met die vryheid leef waarvoor Jesus duur betaal het –

 Joh. 1: 16 en 17 “Uit sy volheid het ons almal genade ontvang-ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom “

Ons moet ook vir onsself omgee!!

25/06/2020 Lewer kommentaar

Ons het die geneigdheid om te dink dat God slegs van ons verwag om na ander uit te reik! – hulle te versorg en na hulle behoeftes om te sien. Natuurlik verwag God dit van ons- MAAR dit is nie die volle verhaal nie. God verwag van ons om onsself lief te hê en onsself te versorg. Hy het ons met liefde geskep om ‘n liefdestaak te gaan doen. Hy het ons geskep om daar te wees vir ander, vir ons naaste lief te wees en om te gee. Ons kan dit alleen goed doen as ons ook vir dit wat Hy vir ons gegee het lief wees!
Psalm 139:14 stel dit so treffend:
” Ek loof U omdat ek ‘n ontsagwekkende wonderwerk is. Wonderbaarlik is u werke en ek besef dit maar te goed” (2014)

Jou eie gesondheid, fisiese en geestelike versorging is belangrik want God het jou ook met liefde gemaak. Hy het jou goed gemaak- jy is ‘n wonderwerk!! Jy moet dus tyd maak vir jou eie fisiese en geestelike versorging en persoonlike groei. Ek dink die geheim is balans. Jy moet aandag gee aan jouself – met die doel om dan ander te versorg. Ons is nie vir onsself gemaak nie, maar as ons nie aan onsself aandag gee nie -kan ons ook nie ons groter lewensdoel bereik nie. As jy nie vir jouself lief is nie – gaan jy sukkel om werklik vir ander mense lief te wees!!
T Hudson het dit op ‘n keer mooi gestel” Ons is deur liefde, in liefde en vir liefde geskep” Ons is hier geskep omdat God ons hier wil hê. Jy is dus spesiaal en het ‘n spesiale taak om te doen in die lewe! Net jy kan dit doen en dit begin deur lief te wees vir jouself sodat God jou kan gebruik…….

My denke oor die covid-19 situasie na die President Woensdag 13 Mei die volk toegespreek het.

16/05/2020 Lewer kommentaar
Ek gaan dit tog waag om ‘n paar woorde kwyt te raak.
Ek besef die realiteit van die inperking begin nou na 50dae eers by heelwat mense inskop. Heelwat kleiner besighede besef dat hulle nie sal kan heropen nie. Daar is mense wie se salaris nou gesny word. Heelwat se opgehoopde drank en sigarette is nou op. Frustrasies van mense wat na so tyd ingehok is begin nou opbou. Hulle het al die beskikbare TV reekse gekyk, al die puzzels gebou, al die resepte uitprobeer, en kaste reggepak. Al wat nou oorbly is om weer na normaal terug te keer.
Aan die ander kant van die draad is daar baie mense wat steeds nie werk het nie , steeds honger is -wie se frustrasies ook opgebou het. Hulle kan nie gaan werk nie, hulle kospakkies hou net solank (die wat gekry het) dit word nou kouer in die nagte en hulle bly in baie klein huise -baie naby aan ander.
Na aanleiding van die 5 fases van ‘n rouproses  klink dit tog vir my asof baie mense nou by die woede(fase 2)  is. Politieke partye probeer hieruit munt slaan. Diewe en korruptes sien dit as geleentheid om hulle sakke te vul. ens ens. Mense se woede maak dat samesweringsteoriee al hoe meer aanloklik lyk , want hulle sukkel om hulle eie denke konstruktief besig te hou in die tyd. Mense probeer ‘n sondebok soek vir hulle ongerief.
In die lig van bogenoemde sou slegs een saak die volk tevrede stel toe die president Woensdag praat en dit is: dat alles opgehef word. Daarom is sosiale media nou vol van bewerings dat die president niks gesê het nie / dat hy voorgesê / gemanupuleer word ens. ens.- mense wou net een antwoord hê.
As ons egter so treetjie terug gee – en mooi dink dan het die president beslis nie niks gesê nie. Hy het duidelik gesê wanneer begin fase 3(dis eintlik al wat hy moes sê). Hy het die volk getroos met hulle ongerief – dit is wat leiers moet doen. Hy het duidelik genoem van die ekonomiese planne wat op koers is (al stem baie nie saam nie en voel hulle uitgesluit). Hy het duidelik genoem en selfs verskoning gevra dat daar in verlede verwarring was. Wat het ons nou eintlik anders verwag? Almal het geweet hy gaan nie nou alles ophef nie. So daarom is dit my mening wat die president ookal sou sê – mense sou ongelukkig wees.
Ek was egter nie negatief nie – Hy het steeds leierskap aan die dag gelê. Dit het die gebruik geword dat hy nie detail van die volgende fase uitspel nie – sy onderskeie ministers doen dit. Hy het as president weer met die volk gepraat. Die fout wat hy gemaak het was om nie weekliks te praat nie. Die storie dat hy gedikteer/gemanipuleer  word, gaan nie vir my af nie. As jy kyk hoe die ANC se struktuur werk en nog altyd gewerk het – is hierdie nie anders nie. Ek weet daar is mense wat met my verskil en dit is goed so. Ek het in die dae ook al gewonder of ons nie aan die neus gelei word nie. Ek het ook al myself gevang dat ek oor alles wonder. Dit  was ook goed so- ‘n mens moet altyd die opsies oorweeg.
Wat dink ek moet ons nou doen?
1. Fokus op iets anders – Lees jou Bybel deur / lees ‘n goeie boek en hou op om aan negatiewe gesprekke deel te neem om negatiewe opmerkings op die sosiale media te versprei. Hou op om samesweringsteoriee te lees. / dink aan maniere hoe jy self ander kan help in die tyd ./ Negatiewe denke gaan niemand en juis ook nie jouself help nie
2. Beperk TV tyd en flieks of reekse – jy gaan later niks van jou kreatiwiteit oor hou nie-
3. As jy nog nie het nie – probeer (in die aande) ‘n nuwe stokperdjie aanleer
4 Bid vir die president en sy kabinet vir wysheid- al stem jy nie saam met alles nie
5. Besef dat jy en jou omstandighede nie die enigste is wat die regering in ag moet neem nie.
6. Moenie ophou om krities oor alles te dink nie, wys die dinge uit wat nie sin maak nie , maar moet ook nie dat dit jou denke begin oorheers nie. Jy benadeel net jouself.
7. As jy nie in posisie is om dinge te verander nie – Werk met wat jy het.
8. Onthou jy kan nie die regering se bestuur van die projek verander nie, maar jy kan jou denke daaroor beheer!!!
NS : O Ja – ek wil darem noem dat ek nie rook nie, stadig drink aan die bietjie wyn wat ek nog het en genoeg t-hempies en plakkies het om te dra in die warm dae!!! 🙂 en ek hoop ook op langer oefentye 🙁

Werklikheid van die opstanding van Christus

29/01/2019 Lewer kommentaar

Ek haal vandag die boek van Coenie Burger oor die hemelvaart : “Waar is Jesus nou?” van die rak af en begin sommer net weer lees. Toe tref die volgende frase my van voor af:
“As ons nie meer in die werklike opstanding van Jesus glo nie, bly daar min oor van die goeie nuus van die evangelie en van die kerk.”
Die boek gaan net net daaroor nie , maar oor die lewende Jesus wat na die opstanding by ons teenwoordig is en hoe dit ons lewe moet verander.

Maar toe het my gedagtes onwillekeurig gegaan oor hoe mede Christene soms oor die opstanding dink of nie dink nie. Hoe dit eintlik ‘n belangrikke basiese geloofswaarheid is, maar dat daar tog ‘n klomp mense is wat aan Christus wil vashou -sonder dat hulle aan die opstanding wil glo.
Toe dink ek hoedat Paulus dit in 1 Kor 15:12-19 stel: Indien ons dink dat die Christelike lewe net oor Christus gaan -sonder dat Hy uit die dood opgewek is , is dit ‘n “tragiese verhaal” (my eie beskrywing van vers 19). Paulus skryf in vers 19 ” As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense”

Om Christus te volg sonder om aan sy opstanding te glo is eintlik ondenkbaar. Dit ontneem ons van die lewende Here se teenwoordigheid en die geestelike krag van ons lewens.

Kan dit dalk een rede wees waarom ons Christene sukkel om as oorwinnaars oor die sonde te leef – Omdat ons iewers vergeet het van die ongelooflike krag van die opstanding van Christus of dit dalk maar op die agtergrond geskuif het?

Hoekom vier Christene Kersfees, terwyl die vroeë Christene dit nie gedoen het nie?

12/12/2018 5 Kommentaar

Die afgelope tyd is die vraag weer op mense se lippe. Mag ons as Christene Kersfees vier? Ek het destyds ‘n reeks artikels oor Christelike feeste gehad waarvan een oor kersfees gegaan het. Dit bly ‘n gewilde onderwerp die tyd van die jaar. Ek plaas dit weer hier. Mag dit jou help om met vrymoedigheid Kersfees as ‘n jubel en liefdesfees te vier !

Hoekom Kersfees?

Aanvanklik het Christene slegs Sondae as fees gevier. Die Opstandingfees op die eerste dag van die week was die enigste fees. Die geboorte van Christus was vir die vroeë Christene glad nie belangrik nie. Daarna het hulle naas die Sondag ook net Paasfees begin gevier (kruisiging en opstanding). Later het Pinksterfees bygekom. Dit was vir die eerste Christene die belangrikste fees.
Tog het daar deur die jare ʼn behoefte ontstaan om die geboorte van Jesus te herdenk. Konstantyn het ʼn kerk laat bou op die waarskynlikste plek waar Jesus gebore sou wees. So in die jaar 326 NC het hulle die kerk (basiliek) gebou bo op die grot wat oorlewering aangewys het as geboorteplek van Jesus. Dit is dus eers in die vierde eeu NC wanneer gelowiges begin belangstel om Jesus se geboorte te vier. In die agtiende eeu het hulle ʼn ster laat aanbring in die kerk by die geboorteplek om te sê:  Hier is Jesus Christus gebore (Nie, dat hulle ooit regtig geweet het waar dit presies was nie).

1 Is dit die regte tyd om Kersfees te vier? Jesus Birth

Jaartal:
Christene  kon nie op ʼn datum ooreenkom wanneer Christus gebore is nie, want niemand het geweet nie. Matteus vertel dat dit in die dae van Koning Herodes was. Lukas meld dat die bevel tot inskrywing uitgegaan het in die tyd van Keiser Augustus en dat dit gebeur het toe Sirenius goewerneur van Sirië was. (Luk 2:1). Verder word die 15de jaar van die regering van keiser Tiberias en die name van ander ook in berekening gebring. Met hierdie en ʼn paar ander Bybelgegewens kon daar afleidings gemaak word. Clemens Alexandrinus noem 18 November in die jaar 3 VC as geboortedatum,  terwyl Hippolytus wou hê dat dit omstreeks 25 Des in die jaar4 VC gebore is. Niemand kon dit egter ooit  met sekerheid sê nie.

Dag en maand
Selfs hier is daar nie definitiewe gegewens nie. Die Oosterse kerk vier Christus se geboorte (epifanie) op 6 Jan en die Westerse kerk vier dit op 25 Des. Hulle het later ooreengekom om albei datums te vier.

Die waarskynlikste oorsprong van die datum is by Mithras ʼn Persiese songod. Hy was die god van die lig, sterrehemel en reinheid. Dit was ʼn misterie godsdiens, maw net belangrike mense kon daaraan behoort. So dit was vir die hooggeplaastes ʼn baie gewilde godsdiens. Selfs van die konings het dit gebruik.Veral die Romeinse soldate het baie aan die Mithraïsme deelgeneem.  Dit was van omstreeks 70 NC ʼn baie gewilde heidense godsdiens. Teen die agtergrond het die kerk van Rome destyds die besluit ongeveer 330 NC geneem dat hulle teenoor die heidense winterfees, eerder n Christelike fees gaan vier.
Daarby was die verskynsel dat die ou Germaanse stamme die winterson ewening as ʼn belangrike oorgang beskou het. Vanaf 25 Des het die son al hoe sterker en helderder geword. Vir die Germane was die son se verheldering na die koue winters van groot betekenis. Die kerk het hierdie gewilde fees oorgeneem en dit gekersten.

So – ter wille van die eenheid en eenvormigheid van Christene wêreldwyd het die kerk besluit om Kersfees 25 Desember te vier.

Mag Christene dan Kersfees vier?
Baie mense wil op grond daarvan dat Kersfees se datum  ʼn heidense oorsprong het,dit  daarom nie vier nie. Daar moet onthou word dat die sending van daardie tyd unieke aanpassingsprobleme gehad het. Hulle het geredeneer dat sekere gewoontes, wat nie so na aan die heidense kern is nie, verchristelik kon word twv die aanvaarbaarheid en uitbreiding van die Christendom.
Ons moet verder onthou dat die datum moontlik ooreenstem met ‘n heidense fees,  maar die inhoud en die viering van Kersfees  is baie Bybels. Dit is dus elke gelowige se keuse om Kersfees te vier. As jy dit vier met ʼn gesindheid dat jy die geboorte van Jesus Christus wil herdenk, is dit goed.

Betekenis en inhoudvan Kersfees:
* Kersfees is ʼn Christusfees. Dit gaan daarom dat Jesus Christus ons verlosser gebore is. Dat God sy eie Seun Jesus Christus na ons gestuur het om die verlore wêreld te red! Hierdie is die vertrekpunt waaroor ons hele geloof en godsdienstige lewe gaan. Die eerste rede waarom ons dus Kersfees met vrymoedigheid kan vier is omdat ons dankbaar is vir Jesus se koms na die aarde, wat vir ons redding gebring het. Die Engele se lied “ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het” (Luk 2:14) Ons is dankbaar en opgewonde dat die Here Jesus gekom het. Dat God mens geword het (Joh. 3:16)! Ons doen dit gewoonlik deur Kersfees  saam kerk toe te gaan.
* Kersfees is ook ʼn Jubelfees. Luk 2:10 gee vir ons die inhoud van Kersfees “ Moenie bang wees nie, want kyk ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die verlosser gebore, Christus die Here” Dit is ʼn groot en wonderlike gebeurtenis wat vra om gevier te word. Dit is die rede waarom Kersfees ʼn fees van blydskap is wat soos ʼn fontein opspring uit die dankbare hart van gelowiges. Ons blydskap het natuurlik ʼn ander inhoud as die wêreldse blydskap by sy feesvieringe.Kersliedere is maar een voorbeeld hoe Christene wil jubel. Deur om te gee, vir ander mense  is jy ook besig om te jubel van dankbaarheid.
* Kersfees is ook ʼn Familiefees: Dit pas in dat Sondae ons weeklikse familiefees is. In ʼn tyd van blydskap en dankbaarheid wil ons graag die mense wat naaste aan ons is by ons hê. Daarom vier ons dit met vreugde, blydskap en dankbaarheid.

2. Gebruike tydens Kersvieringe:
* Geskenke
Die gebruik van geskenke kom natuurlik van die geskenke wat die Christus kind na sy geboorte ontvang het van goud, wierook en mirre. Die probleem is dat ons geskenke soms hand uitruk. Die geskenke moet eerder eenvoudige liefdesgeskenke wees wat ons vir mekaar gee as wat dit ‘n duursame luukse karakter het.  Anders is daar geen verskil tussen ons en die wêreld nie.
*Kersvader
Dit word verbind aan ʼn karakter wat Kersfeesvader of Santa Claus genoem word. Santa beteken Heilig en Claus kom van St. Nicolaas af. Hy was ʼn goeie biskop van Myra wat waarskynlik 6 Des 280 NC gebore is.  Volgens oorlewering was hy as biskop verkies en was baie geliefd in die Griekse Katolieke kerk. Hy is vervolg, in die tronk gegooi en later deur Konstantyn bevry. Hy was bekend as ʼn beskermheer van matrose omdat hy op ʼn keer teen ʼn storm gebid het. Meer nog was hy bekend vir sy sorgsaamheid vir arm kinders aan wie hy graag geskenke gegee het.
Die bekende verhaal wat oor hom vertel word is dat hy die dogter van ‘n edelman gehelp het met die bruidskat nadat die Pa skielik alles verloor het. (Sommige beweer dat die  goud in ʼn kous geval het wat naby die skoorsteen gehang het om droog te word. ).
In Nederland was daar baie matrose en St Nicolaas se naam het gou helde-status bereik Later het ʼn hele tradisie rondom hom met ʼn rooi jas en baard ontstaan.
Ek gun kinders die pret en fantasie van Kersvader,  maar nooit mag Kersfeesvader met  Christus vergelyk, of ge-assosieer word nie. Jy moet altyd vir kinders presies vertel waarom ons kersfees vier. Die enigste rede is Christus.  Kersvader het niks met Christus te doen nie.
*Kersboom:
Boomverering waarin die kersboom sy oorsprong het, dateer baie ver terug. Met kinders se geboorte plant mense soms ‘n boom. Die simboliese van bome wat die lewe simboliseer,  is so oud soos die mens.
Volgens oorlewering het die kersboom omstreeks 733 NC ontstaan toe ʼn Engelse sendeling nl. Bonofacius, die Germane besoek het. Hulle het rondom ʼn groot eikeboom ter ere van Thor die dondergod feesvier. Hy het hom so vir hulle vervies dat hulle weer so terugval na sy evangelisasie-werk, dat  hy sy byl gegryp en die boom afgekap het. Nou word vertel dat in die plek van die eikeboom het ʼn jong boom opgekom wat hulle na die hoofman se huis geneem het. Bonifacius het toe rondom die boom vir hulle van Jesus vertel.

Weereens is dit slegs stories met geen werklike betekenis nie. Die gebruik van ‘n kersboom het niks met die Christelike kersviering te doen nie. As jy dit wil gebruik, moet dit net duidelik wees dat dit niks met Christus te doen het nie.

*Kersviering:
Aanvanklik het Christene Kersfees baie sober en gesinsgerig gevier. Veral Oukersaand! Met die jare het Christene (net soos die heidense volke) begin feesvier op daardie dag – sodat dit soms meer ontaard in ‘n wêreldse fees. In hierdie sin dink ek nie die vroeë kerk het ons ‘n guns gedoen deur Kersfees op dieselfde dag as heidenste feeste te vier nie. Ons mense word so ingetrek in die wêreldse vieringe dat dit moeilik is om ‘n onderskeid te tref.

Dit het selfs in die vroeër jare so vermeng geraak met die wêreldse vieringe en vreugde, dat die Sinode van Dordt in 1574, Kersfees verbied het en gesê het Christene moet slegs Sondae as Opstandingsfees vier en niks anders nie. Later het die kerk ʼn meer gemoedelike standpunt daaroor gehad omdat besef is dat mense ʼn behoefte het om Jesus se geboortedag te vier. Die sinode van Dordt het in 1617/18 besluit dat die Gereformeerde kerke voortaan  drie feeste (kerksiklusse)sou vier  nl. Paasfees, Pinksterfees en Kersfees. Later het Hemelvaart ook bygekom..

Om Kersfees te vier is elkeen se keuse. Persoonlik vier ek en my gesin dit wel. Ons doen dit deur  kerk toe te gaan omdat ons Christus se geboorte saam met ons medegelowiges wil vier! Dan sing ons kersliedere saam, om die Here te loof . Dit is ook ‘n tyd waar ons as familie bymekaar kom. My vrou is lief daarvoor om ‘n kersboom baie kreatief te versier en (as ons dit die jaar kan bekostig) gee ons vir mekaar  ‘n klein geskenkie om ons onderlinge liefde te illustreer.  Elke Christen kan sy kersvieringe volgens eie keuse en familie tradisie inrig, maar indien jy Kersfees wil vier moet Christus die middelpunt bly!

Mag dit vir jou ook baie seën inhou om hierdie dae ‘n ware Christusfees te vier!

Quintus

Om op God te Wag is ‘n Geloofsdissipline!

05/12/2018 Lewer kommentaar

Ek hoor dikwels die die opmerking ”Die einde van die jaar is so naby en daar is so baie om nog te doen – ek weet nie of ek al my doelwitte gaan bereik nie!”

Daar is altyd doelwitte of ideale wat nie nie afgehandel kom nie en daar is nie ’n tyd wanneer ’n mens meer daarvan bewus word as aan die einde van die jaar nie.

Dalk is dit juis in die besige tyd nodig om weer na te dink oor die verband tussen

1. ons ingesteldheid teenoor dit wat ons nog nie bereik het nie, en

2. ons geestelike gewoontes en gebedslewe.

Ons vinnige lewenstyl en ongeduld maak dat ons nie altyd die spirituele ingesteld het om op God te wag nie. Om op God te wag, is ’n gebed- en spirituele lewenshouding wat ’n bepalende invloed op jou verhouding met die Here het. Daar is meer as 30 tekste in die Bybel wat hierdie lewensingesteldheid vir ons uiteensit . Ek het gevind dat in die tye wat ek die meeste met die Here oor sake worstel, die grootste geneser ’n ingesteldheid was van wag op die Here. Vir mense met ’n doelwitgedrewe lewenstempo, is dit natuurlik nie die maklikste dissipline nie, tog is dit die een lewenshouding wat ’n mens God helderder laat raaksien!

Die woord wat in die Bybel vir “verwagting” gebruik word , word ook dikwels vertaal met “vertroue”. Miskien verduidelik dit vir ons iets van die betekenis van “om op God te wag”. Ons ongeduld met die Here is heel dikwels ’n simtoom van ons gebrek aan oorgawe aan die Here.

Hoe wag ’n mens op God ?

Om Op God te wag is ’n lewenswyse wat begin met algehele oorgawe aan die Here. Ps 25:21 “ Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek”. Om alles in die hande van die Here te gee is ’n daaglikse handeling – daarom is dit ’n geloofsdissipline wat ons moet aanleer. Ons moet elke dag oefen om elke onvoltooide saak , versoek en doelwit in die hande van die Here oor te gee en Hom daarmee te vertrou. Die woord dissipline beteken dat jy dit op gereelde basis moet doen – nie om God daaraan te herinner nie , maar om jouself te herinner dat die spesifieke saak nie meer in jou hande is nie!

Wat gebeur met ’n mens wat op God wag?

Jy leer om in afhanklikheid van God te leef : Om op die Here te wag, is om te besef dat jy nie in beheer van jou bestemming is nie. Die gebedslewe van iemand wat hierdie dissipline het, verskil van iemand wat dink hy kan die Here se arm draai om aan al sy behoeftes te voldoen. Natuurlik kan ons enigiets in die Naam van die Here vra. Maar om te vra, beteken vir geen oomblik om te beveel nie. Dit is ‘n lewensuitkyk met jou oë na bo gerig en nie op jouself nie. Om te vra, is ’n aanduiding dat alles in iemand anders se hande is. As ons vir iemand moet oplaai en ons wag vir hom in die motor – kan ons soms maklik ongeduldig raak. Die rede hiervoor is omdat ons nie in beheer van die situasie is nie. Die een wat die situasie beheer, is die een vir wie ons wag, want jy kan niks doen voor hy nie kom nie. Dieselfde met ons gebedslewe. As jy geleer het om iets in die hande van die Here te vertrou mag jy nie die een wees wat ongeduldig is nie – of selfs eise aan die Here stel nie – Jy moet leer om op God te wag – en om in afhanklikheid van die Here te leef!

Daar vind ware geestelike verandering plaas indien jy op die Here wag. As jy op Hom wag, gebeur daar iets met jou. Dit is gewoonlik die enigste tye wat ons iets van onsself en van die lewe leer – as dinge nie vinnig gebeur nie. As ’n kind vir sy ouers iets vra en hy kry dit maklik, leer hy mos niks! Dit is eers as hy leer om te werk vir iets of dat dinge nie maklik of vinnig kom nie, dat hy iets leer. So is dit maar met ons ook as ons op die Here wag. Dit is die tyd in ons lewens wanneer die Heilige Gees ons die meeste verander!

Jy leer om nuut te kyk: As Habakuk op die Here wag , gaan lê hy nie op sy bed en slaap nie . Hy klim na die uitkyktoring en soek die antwoord. Om op die Here te wag beteken om met verwagting te wag. In die proses leer jy om met nuwe oë na die lewe te kyk. Jy soek as’t ware ’n antwoord op jou gebede. As jy nie ’n antwoord verwag en uitkyk daarvoor nie, sien jy soms nie die Here se antwoord raak nie. In die proses van soek en verwagting, leer die Here jou om ander en nuwe dinge raak te sien!

Jy leer geloofsvolharding : Onthou die Here gebruik die “wagtye” om ons geloof te toets en ons vertroue in Hom te versterk. In wagtye, kry jou gebed ook meer krag , jou geloof meer spiere en jou hart word ruimer om na God te luister! Om te Wag is die tye waar jou geloofsvolharding getoets en getemper word word. Om te wag beteken om aan te hou glo en nie kleingelowig te raak oor die geringste negatiewe seine wat jy raaksien nie. Om op die Here te wag , is om in geloof te volhard!

Luk 2:25 vertel van Simeon wat met verwagting uitgesien het na die koms van die Verlosser. “Daar het destyds ‘n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon…”

Mag jy die spirituele lewensgewoonte van “Om op God te Wag” ’n geestelike dissipline maak.

Quintus

Deur Engele aangeraak

27/09/2017 Lewer kommentaar

Ek is vandag weer herinner wat dit werklik beteken om om as Christen liefde te leef. Daar is by ons ʼn natuurlike en vanselfsprekende verwagting dat mense wat in ʼn omgee beroep is, hulle taak met liefde sal verrig en hulle naaste sal liefhê – Ons is mos Christene!. Maar op ʼn dag kom jy in aanraking met mense wat jou so oorweldig met hulle liefdesharte en dade dat dit nie net die lewens wat hulle aanraak verander nie, maar ook jou wat dit moet aanskou oorweldig! Ek het vandag weer so ervaring gehad.

Ek is saam met my kantoorpersoneel vir ʼn dag na die Instituut vir Blindes (Kaleidoskoop) om die Bybel in Audio formaat aan hulle te skenk. Ons noem dit die AudiBybel. Dit is vir ons ‘n voorreg om betrokke te wees om vir elke persoon wat blind is ‘n Bybel te kan gee – sodat hulle self die Woord van die Here kan “lees” en hoor. Vandat ons kontak gemaak het met die personeel van die Instituut vir Blindes totdat ons daar weggery het, was ons baie diep geraak deur die omgee en liefde waarmee die personeel mense wat blind is hanteer. Dit geld vir al die personeel. Hulle verstaan die kuns om onvoorwaardelik en opreg lief te hê. Om die interaksie tussen die personeel/onderwysers van die Instituut en die mense wat blind is te ervaar was vir my asof ek in die teenwoordigheid van engele was.

Jy kan op geen manier wegsteek wat in jou hart aangaan nie – Een of ander tyd kom dit na die oppervlak. Hoe meer daar ʼn diepe innerlike opregtheid van liefde en omgee is hoe meer gaan ander dit aanvoel.  Mense se innerlike antennas voel opregtheid aan-  dit wat woorde en dade nie na behore kan reflekteer nie. Dis wat in die geskiedenis van die Christendom gebeur het. Daar is opgeteken dat dit die opregte liefde van die dissipels teenoor ‘n ongenaakbare heidenwêreld was, wat mense na die Christelike gemeenskap aangetrek het. Die liefdeskrag en teenwoordigheid wat Jesus met sy aardse bediening gehad het, is oorgedra aan sy volgelinge – nie deur vir hulle ʼn towerkrag te gee waar hulle mag kon demonstreer nie, maar in die mag wat hulle ontvang het deur met opregte harte,  liefde uit te deel en te leef. Met die geskenk van liefde het die Here sy kinders geseën met ʼn krag wat groter is as die wêreld se magte. Liefde is om ten diepste jouself te gee. Dit vra dat jy besef – jy is nie daar vir jouself nie!

Dit is was ek vandag by die personeel  van die Instituut vir blindes ervaar het- Hulle omgee het my oorweldig. Dankie Here dat u my vandag met engele aangeraak het!