Archive

Archive for the ‘Gebede’ Category

Here ek bid vir ons land!

14/07/2021 1 comment

‘n Paar jaar terug – Toe ons land ook in warboel was – het ek die gebed geskryf – Ek het dit weer vandag gebid!

O Here ek staan vandag voor U, omring deur ʼn veelheid van emosies. Heeltyd bewus van dit wat ek hoor en sien – wreedheid, uittarting, wraak en hartseer. Ek voel aan hoe mense rondom my bang, onseker en bedreig is. Saam met hulle het ek soveel vrae en so min antwoorde.
Terselfdertyd gaan my gedagtes terug na Goeie Vrydag waar ek daaraan herinner is dat U al my skuld betaal het. Daar het U my weer gedring om die sondekleed wat so aan my vasklou uit te trek en voor U neer te sit.

Ja Here – by die kruis het U my kaal gestroop van my eie pretensies en eie geregtigheid wat ek so graag in stand hou. U het my gestroop van gedagtes dat ek ʼn goeie mens is, van  gedagtes wat my tot hoogmoed teenoor misdadigers verhef.

U het my voor die kruis laat buig waar ek net kon uitroep – Here wees my genadig!

Dankie Here vir die derde dag – Opstandingdag.

U het my weer opgehef, klere aangetrek. Hierdie keer was dit Koningsklere, u klere – die klere van liefde, die klere van genade, sagte inklusiewe klere!

U het my ook nuwe oë gegee waarmee ek anders kan kyk.

U het my nuwe voete gegee waarmee ek nuwe paaie kan loop,

Nuwe gedagtes waarmee ek anders kan dink,

Nuwe ore waarmee ek anders kan hoor,

Nuwe oordeel waarmee ek nie meer veroordeel nie,

Nuwe vrede wat al my vrese verdryf.

O Heer – ek bid dat U ons in die moeilike emosionele tyd  so vol van u liefde sal maak, dat daar nie plek vir ons eie wraak is nie. Dat U ons vol van u vertroue sal maak dat ons nie sal vrees nie. Dat U so ons vol van u vrede sal maak dat ons in vrede met mekaar sal leef!
Dankie, Here, dat ons vandag selfs in die warboel van emosies u troos kan ervaar. Dankie dat ek my hande in u hande kan plaas.
Amen.

KategoriëGebede Sleutelwoorde:, , ,

‘n Gebed vir ons land : Ben Marais

14/02/2015 Lewer kommentaar

“Wat moet ons bid in tye soos die ?” is die vraag wat iemand my  vrae:

In 1952 het daar ’n gebedsboekie van dr. Ben Marais met die titel “Die Verre Horison” verskyn. In die voorwoord meld hy dat hierdie gebede “ is langs die pelgrimspad geskryf deur een wat maar self leer om te bid”

Ek deel graag sy gebed vir die die 30ste dag:

“ Skenk my vanmore opnuut, Here die lig van U aangesig. Laat my hier aan die begin van die dag ’n geopende deur voor my hê waardeur ek kan ingaan in die lieflike land van U genade en U gemeenskap.

Ek wil vandag bid vir owerheid en onderdaan. Dink aan hulle wat die heerskappy in die hande het, wees hulle genadig en gee hulle U lig en U wysheid. Leer hulle om hul gesag te gebruik tot die eer van die Here. O Here, dink aan die leiers van ons eie volk. Laat hulle die mag waarmee hulle onder U hand beklee is, gebruik tot U verheerliking en tot die opbou van U koninkryk in ons midde. Laat reg en geregtigheid hulle dade kenmerk, sodat ons rus en vrede in ons land kan hê. Laat hulle steeds gedagtig wees aan die feit dat hulle ook Iemand het wat oor hulle gesag voer en aan Wie hulle verantwoording vir elke daad moet doen.

Dink aan hulle in wie se hande die regspraak van die land berus, aan onderwysers en geneeshere, aan almal wat die gees en die liggaam van die volk moet versorg. Laat hulle nie hulle werk probeer doen sonder gedagte aan Christus, die groot Regter, die groot Leermeester, die groot Geneesheer van krankes nie.

Lei my as burger vandag, dat ek ‘n voorbeeld sal wees van wetsbetragting, van my ywer en toewyding in my dagtaak en my burgerplig, sodat ek my getuienis vir Jesus Christus sal aflê. Ek weet dat ek nie die lieflikheid en die wonder van Christus kan deurgrond nie en dat my beeld van Hom onvolmaak is. Ek weet ook dat ek nie eens daarin slaag om aan daardie onvolmaakte beeld van Christus getrou te wees nie. O onvergelykbare Christus, maak my vandag meer en meer u beeld gelyk!

Amen “

Kom ons bid vandag vir ons land en sy leiers!!!!!!!

KategoriëGebede Sleutelwoorde:

Here, U is getrouer as my getrouste vriend

28/02/2013 Lewer kommentaar

Here U is getrouer as my getrouste vriend

Soms trek die suier van twyfel en negatiewe denke jou onder soos dryfsand. Die versmorende effek van neerdrukkendheid kan ‘n mens baie neerslagtig maak.Dit is in sulke tye waar dit nodig is dat jy die wonderlike woorde van Ps 116  bid. Ps 116 is ‘n gebed van ‘n persoon wat besef dat hy tot God kan roep, want Hy is altyd bereid om te luister na wat ons op die hart het. Deur in Hom te bly vertrou, kry ons rustigheid in ons siel. Daarom sal ons, ons lewe gee as ‘n offer. Hy is inderdaad die getrouste vriend! As jy die woorde van Ps 116 bid – ontvang jy krag deur die Gees van God!

Bid saam met die digter van Ps 116 :

Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het. Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die Here aangeroep: “Here, red my tog!” Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons. Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered. Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen: U het my van die dood gered, U het ‘n einde gemaak aan my trane, U het gesorg dat ek nie weer struikel nie. Ek kon voor die Here bly wandel in die land van die lewendes.
Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my en toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens
staat maak nie. Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? Met ‘n drankoffer sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk.
Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie. Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek
al u dienaar: U het my vry gemaak. Ek wil U loof met ‘n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan  die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk, in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, Jerusalem!   Prys die Here!

(1983 Afr vertaling)

KategoriëGebede Sleutelwoorde:,

Jesus se onverhoorde lydens-gebed.

05/04/2009 Lewer kommentaar

Lydenstyd is ‘n tyd waneer ek meer as normaalweg bewus is van my eie broosheid en nietigheid. Dit is juis die bewustheid van my eie onvolmaaktheid dat ek die oorwinning van die opstanding na lydenstyd met soveel vreugde kan vier. Verskeie gebeure rondom my, het my die afgelope tyd meer intens bewus gemaak van die mens se feilbaarheid, dat ons menswees soms maar sinoniem is met nietigheid.

Daar het die afgelope tyd ‘n klomp goed gebeur waar ekself baie meer vrae as antwoorde voor God gehad het. Eers is ek intens teleurgestel met iemand se optrede teenoor die kerk van die Here en toe kry ek die slegte nuus dat my vriende se pa wreedaardig op ‘n plaas vermoor is. Ek was verward en het vrae gevra. Ook weer die eeu oue vraag :” Hoe kan God die mens toelaat om in sy eie onbeholpenheid  te struikel en ander ook laat seerkry? Dit is toe dat ek weer dink aan Jesus se gebed in Getsemane.

In hierdie volmaakte gebed het Jesus vir God gevra om Hom die lydensbeker te spaar. (Mat 26:39). Tog kry Hy ‘n teleurstellende antwoord. Prof Attie Barnard skryf  dat Jesus in hierdie gebed aan al die gebedsvereistes voldoen het! Dit was in alle opsigte ‘n volmaakte gebed. Let op na al die vereistes waaraan hierdie gebed voldoen:

*Jesus het God korrek aangespreek (Abba, Vader);
* Die omstandighede was die van afsondering (Hy was heeltemaal alleen);
*Hy het God met die volmaakte gesindheid genader (dringend, maar sonder om God se arm te
probeer draai);
*Hy het die gepaste houding gehad (Met nederigheid en onderwerping );
*Daar was ‘n duidelike en spesifieke inhoud in sy gebed;
*Dit was ‘n gebed met die geloof wat berge kon versit( Vader alles is vir U moontlik);
*Met onwrikbare vertroue ( “ My Vader as dit moontlik is …”  )

* Uiterste konsentrasie en inspanning  (Sy sweetdruppels het in bloed verander);

* Hy het geweet dat sy eie swakheid en afhanklikheid net van God kan kom (‘n Engel het uit die hemel       gekom  en Hom versterk);
*Niemand het ook ‘n meer intieme verhouding met die Vader gehad as Hy nie.
* Dit was ‘n volhardende gebed (Hy het drie maal gebid !.)

Indien al die bogenoemde sake in ag geneem word, het Hy aan al die “vereistes” voldoen. Tog het God hierdie volmaakte en aangrypende gebed geweier! Ek dink as daar een gebed was waar God se eie hart swaar gekry het om Nee te sê-, was dit die een! Ek kan my voorstel dat sy hart stukkend was toe Hy toelaat dat al die lyding en vernedering oor sy Seun se pad kom.

Ek dink ons voel ook soms dat ons  net nie kan verstaan waarom God nie vir ons Ja sê nie. In ons eie oë voldoen ons gebede en lewenstyl dan aan al die voorwaardes wat die Woord vra. Verder verstaan ons nie waarom slegte dinge met godvresende mense gebeur nie. Dit hoort mos nie so nie. Ten spyte van al die dinge ervaar ons dat God soms vir ons “Nee” sê. Met ander woorde, die beantwoording van ons gebede hang nie af van hoe volmaak ons bid of lewe nie. Dit het eerder alles met God te maak!!

In sulke tye word ons gedwing om verder te kyk. Toe God Jesus se gebedsversoek geweier het, het Hy die redding van die mensdom in gedagte gehad. Hy het Nee gesê op die gebedsversoek, omdat Hy ‘n veel wonderlike en heerlike verlossing  waar wou laat word. Al is dit vir ons moeilik,  moet ons  “onverhoorde gebede”  in die raamwerk van God se genade geplaas word en moet ons in ons eie lydenstyd ons vertroue in God plaas – soos Jesus gedoen het! Gewoonlik sien ons nie die groter prentjie raak of sal ons dit ook nie raaksien nie. Dit is wat lydenstyd so intens maak. Dit is ‘n tyd om sonder antwoorde voor die gekruisigde Jesus te buig en ons lewe in sy hande te gee.

Miskien kan ons in die lydenstyd perspektief kry oor ons eie gebede in die woorde waarmee Jesus sy gebed afgesluit het

“ Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil”

‘n Geseënde Paastyd vir almal!

Quintus

KategoriëGebede Sleutelwoorde:, , ,

Hoop en Genade vir Kersfees!

01/09/2008 1 comment

Terwyl ek sit en die laaste blogartikel vir die jaar skryf voor ek ’n bietjie gaan uitspan, luister ek na die musiek van ” Les Misérables” . As jy dit nog nie beleef het nie, moet jy sorg dat jy die opvoering sien as dit weer Suid-Afrika toe kom. Dit gaan oor Hoop en Genade. Die verhaal gaan oor genade, vergifnis en ‘n nuwe begin !!

Op die oomblik kan ek nie help om die doop aan Kersfees te koppel nie! ‘n Simbool van die nuwe begin en nuwe hoop. Ja dit is wat die geboorte van die Here Jesus was- Die belofte van Hoop en Verlossing vir die mensdom!!

Dit is my wense vir elkeen van julle vir die kerstyd.

Ek wil graag die lofgebed van Maria nadat sy gehoor het sy gaan die kindjie Jesus in die wêreld bring met julle deel. In die gebed getuig sy van die goedheid van God !!

Luk 1: 46-56

“ En Maria het gesê: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan die wat Hom eer. Kragtige dade het Hy met sy arm verrig; hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaar gejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur. Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.”

Mag die kersfees vir elkeen ’n Gelukkige fees van Hoop en Genade wees

Quintus