Tuis > Bybelse vrae > Hoekom vier Christene Kersfees, terwyl die vroeë Christene dit nie gedoen het nie?

Hoekom vier Christene Kersfees, terwyl die vroeë Christene dit nie gedoen het nie?

Die afgelope tyd is die vraag weer op mense se lippe. Mag ons as Christene Kersfees vier? Ek het destyds ‘n reeks artikels oor Christelike feeste gehad waarvan een oor kersfees gegaan het. Dit bly ‘n gewilde onderwerp die tyd van die jaar. Ek plaas dit weer hier. Mag dit jou help om met vrymoedigheid Kersfees as ‘n jubel en liefdesfees te vier !

Hoekom Kersfees?

Aanvanklik het Christene slegs Sondae as fees gevier. Die Opstandingfees op die eerste dag van die week was die enigste fees. Die geboorte van Christus was vir die vroeë Christene glad nie belangrik nie. Daarna het hulle naas die Sondag ook net Paasfees begin gevier (kruisiging en opstanding). Later het Pinksterfees bygekom. Dit was vir die eerste Christene die belangrikste fees.
Tog het daar deur die jare ʼn behoefte ontstaan om die geboorte van Jesus te herdenk. Konstantyn het ʼn kerk laat bou op die waarskynlikste plek waar Jesus gebore sou wees. So in die jaar 326 NC het hulle die kerk (basiliek) gebou bo op die grot wat oorlewering aangewys het as geboorteplek van Jesus. Dit is dus eers in die vierde eeu NC wanneer gelowiges begin belangstel om Jesus se geboorte te vier. In die agtiende eeu het hulle ʼn ster laat aanbring in die kerk by die geboorteplek om te sê:  Hier is Jesus Christus gebore (Nie, dat hulle ooit regtig geweet het waar dit presies was nie).

1 Is dit die regte tyd om Kersfees te vier? Jesus Birth

Jaartal:
Christene  kon nie op ʼn datum ooreenkom wanneer Christus gebore is nie, want niemand het geweet nie. Matteus vertel dat dit in die dae van Koning Herodes was. Lukas meld dat die bevel tot inskrywing uitgegaan het in die tyd van Keiser Augustus en dat dit gebeur het toe Sirenius goewerneur van Sirië was. (Luk 2:1). Verder word die 15de jaar van die regering van keiser Tiberias en die name van ander ook in berekening gebring. Met hierdie en ʼn paar ander Bybelgegewens kon daar afleidings gemaak word. Clemens Alexandrinus noem 18 November in die jaar 3 VC as geboortedatum,  terwyl Hippolytus wou hê dat dit omstreeks 25 Des in die jaar4 VC gebore is. Niemand kon dit egter ooit  met sekerheid sê nie.

Dag en maand
Selfs hier is daar nie definitiewe gegewens nie. Die Oosterse kerk vier Christus se geboorte (epifanie) op 6 Jan en die Westerse kerk vier dit op 25 Des. Hulle het later ooreengekom om albei datums te vier.

Die waarskynlikste oorsprong van die datum is by Mithras ʼn Persiese songod. Hy was die god van die lig, sterrehemel en reinheid. Dit was ʼn misterie godsdiens, maw net belangrike mense kon daaraan behoort. So dit was vir die hooggeplaastes ʼn baie gewilde godsdiens. Selfs van die konings het dit gebruik.Veral die Romeinse soldate het baie aan die Mithraïsme deelgeneem.  Dit was van omstreeks 70 NC ʼn baie gewilde heidense godsdiens. Teen die agtergrond het die kerk van Rome destyds die besluit ongeveer 330 NC geneem dat hulle teenoor die heidense winterfees, eerder n Christelike fees gaan vier.
Daarby was die verskynsel dat die ou Germaanse stamme die winterson ewening as ʼn belangrike oorgang beskou het. Vanaf 25 Des het die son al hoe sterker en helderder geword. Vir die Germane was die son se verheldering na die koue winters van groot betekenis. Die kerk het hierdie gewilde fees oorgeneem en dit gekersten.

So – ter wille van die eenheid en eenvormigheid van Christene wêreldwyd het die kerk besluit om Kersfees 25 Desember te vier.

Mag Christene dan Kersfees vier?
Baie mense wil op grond daarvan dat Kersfees se datum  ʼn heidense oorsprong het,dit  daarom nie vier nie. Daar moet onthou word dat die sending van daardie tyd unieke aanpassingsprobleme gehad het. Hulle het geredeneer dat sekere gewoontes, wat nie so na aan die heidense kern is nie, verchristelik kon word twv die aanvaarbaarheid en uitbreiding van die Christendom.
Ons moet verder onthou dat die datum moontlik ooreenstem met ‘n heidense fees,  maar die inhoud en die viering van Kersfees  is baie Bybels. Dit is dus elke gelowige se keuse om Kersfees te vier. As jy dit vier met ʼn gesindheid dat jy die geboorte van Jesus Christus wil herdenk, is dit goed.

Betekenis en inhoudvan Kersfees:
* Kersfees is ʼn Christusfees. Dit gaan daarom dat Jesus Christus ons verlosser gebore is. Dat God sy eie Seun Jesus Christus na ons gestuur het om die verlore wêreld te red! Hierdie is die vertrekpunt waaroor ons hele geloof en godsdienstige lewe gaan. Die eerste rede waarom ons dus Kersfees met vrymoedigheid kan vier is omdat ons dankbaar is vir Jesus se koms na die aarde, wat vir ons redding gebring het. Die Engele se lied “ Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ʼn welbehae het” (Luk 2:14) Ons is dankbaar en opgewonde dat die Here Jesus gekom het. Dat God mens geword het (Joh. 3:16)! Ons doen dit gewoonlik deur Kersfees  saam kerk toe te gaan.
* Kersfees is ook ʼn Jubelfees. Luk 2:10 gee vir ons die inhoud van Kersfees “ Moenie bang wees nie, want kyk ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die verlosser gebore, Christus die Here” Dit is ʼn groot en wonderlike gebeurtenis wat vra om gevier te word. Dit is die rede waarom Kersfees ʼn fees van blydskap is wat soos ʼn fontein opspring uit die dankbare hart van gelowiges. Ons blydskap het natuurlik ʼn ander inhoud as die wêreldse blydskap by sy feesvieringe.Kersliedere is maar een voorbeeld hoe Christene wil jubel. Deur om te gee, vir ander mense  is jy ook besig om te jubel van dankbaarheid.
* Kersfees is ook ʼn Familiefees: Dit pas in dat Sondae ons weeklikse familiefees is. In ʼn tyd van blydskap en dankbaarheid wil ons graag die mense wat naaste aan ons is by ons hê. Daarom vier ons dit met vreugde, blydskap en dankbaarheid.

2. Gebruike tydens Kersvieringe:
* Geskenke
Die gebruik van geskenke kom natuurlik van die geskenke wat die Christus kind na sy geboorte ontvang het van goud, wierook en mirre. Die probleem is dat ons geskenke soms hand uitruk. Die geskenke moet eerder eenvoudige liefdesgeskenke wees wat ons vir mekaar gee as wat dit ‘n duursame luukse karakter het.  Anders is daar geen verskil tussen ons en die wêreld nie.
*Kersvader
Dit word verbind aan ʼn karakter wat Kersfeesvader of Santa Claus genoem word. Santa beteken Heilig en Claus kom van St. Nicolaas af. Hy was ʼn goeie biskop van Myra wat waarskynlik 6 Des 280 NC gebore is.  Volgens oorlewering was hy as biskop verkies en was baie geliefd in die Griekse Katolieke kerk. Hy is vervolg, in die tronk gegooi en later deur Konstantyn bevry. Hy was bekend as ʼn beskermheer van matrose omdat hy op ʼn keer teen ʼn storm gebid het. Meer nog was hy bekend vir sy sorgsaamheid vir arm kinders aan wie hy graag geskenke gegee het.
Die bekende verhaal wat oor hom vertel word is dat hy die dogter van ‘n edelman gehelp het met die bruidskat nadat die Pa skielik alles verloor het. (Sommige beweer dat die  goud in ʼn kous geval het wat naby die skoorsteen gehang het om droog te word. ).
In Nederland was daar baie matrose en St Nicolaas se naam het gou helde-status bereik Later het ʼn hele tradisie rondom hom met ʼn rooi jas en baard ontstaan.
Ek gun kinders die pret en fantasie van Kersvader,  maar nooit mag Kersfeesvader met  Christus vergelyk, of ge-assosieer word nie. Jy moet altyd vir kinders presies vertel waarom ons kersfees vier. Die enigste rede is Christus.  Kersvader het niks met Christus te doen nie.
*Kersboom:
Boomverering waarin die kersboom sy oorsprong het, dateer baie ver terug. Met kinders se geboorte plant mense soms ‘n boom. Die simboliese van bome wat die lewe simboliseer,  is so oud soos die mens.
Volgens oorlewering het die kersboom omstreeks 733 NC ontstaan toe ʼn Engelse sendeling nl. Bonofacius, die Germane besoek het. Hulle het rondom ʼn groot eikeboom ter ere van Thor die dondergod feesvier. Hy het hom so vir hulle vervies dat hulle weer so terugval na sy evangelisasie-werk, dat  hy sy byl gegryp en die boom afgekap het. Nou word vertel dat in die plek van die eikeboom het ʼn jong boom opgekom wat hulle na die hoofman se huis geneem het. Bonifacius het toe rondom die boom vir hulle van Jesus vertel.

Weereens is dit slegs stories met geen werklike betekenis nie. Die gebruik van ‘n kersboom het niks met die Christelike kersviering te doen nie. As jy dit wil gebruik, moet dit net duidelik wees dat dit niks met Christus te doen het nie.

*Kersviering:
Aanvanklik het Christene Kersfees baie sober en gesinsgerig gevier. Veral Oukersaand! Met die jare het Christene (net soos die heidense volke) begin feesvier op daardie dag – sodat dit soms meer ontaard in ‘n wêreldse fees. In hierdie sin dink ek nie die vroeë kerk het ons ‘n guns gedoen deur Kersfees op dieselfde dag as heidenste feeste te vier nie. Ons mense word so ingetrek in die wêreldse vieringe dat dit moeilik is om ‘n onderskeid te tref.

Dit het selfs in die vroeër jare so vermeng geraak met die wêreldse vieringe en vreugde, dat die Sinode van Dordt in 1574, Kersfees verbied het en gesê het Christene moet slegs Sondae as Opstandingsfees vier en niks anders nie. Later het die kerk ʼn meer gemoedelike standpunt daaroor gehad omdat besef is dat mense ʼn behoefte het om Jesus se geboortedag te vier. Die sinode van Dordt het in 1617/18 besluit dat die Gereformeerde kerke voortaan  drie feeste (kerksiklusse)sou vier  nl. Paasfees, Pinksterfees en Kersfees. Later het Hemelvaart ook bygekom..

Om Kersfees te vier is elkeen se keuse. Persoonlik vier ek en my gesin dit wel. Ons doen dit deur  kerk toe te gaan omdat ons Christus se geboorte saam met ons medegelowiges wil vier! Dan sing ons kersliedere saam, om die Here te loof . Dit is ook ‘n tyd waar ons as familie bymekaar kom. My vrou is lief daarvoor om ‘n kersboom baie kreatief te versier en (as ons dit die jaar kan bekostig) gee ons vir mekaar  ‘n klein geskenkie om ons onderlinge liefde te illustreer.  Elke Christen kan sy kersvieringe volgens eie keuse en familie tradisie inrig, maar indien jy Kersfees wil vier moet Christus die middelpunt bly!

Mag dit vir jou ook baie seën inhou om hierdie dae ‘n ware Christusfees te vier!

Quintus

  1. Mari Stebbing
    23/12/2011 om 22:28

    Baie dankie vir die pragtige stukkie. Ek wil graag een ding weet: hoekom noem ons dit “kers”-fees? wat beteken die “kers” presies? Ek verstaan dis ‘n Christusfees, maar wat sou die oorsprong wees?

    Baie dankie!

    Like

  2. 06/12/2014 om 16:58

    Ek vier graag Kersfees. Ons woon diep in Afrika en sien die familie min. Kersfees se geskenke is vir my ‘n lekkerste ding , van die uitsoek tot die uitdeel. Tog te lekker. Als is lekker, my skoonpa is woes teen die kersboom, nou string ek ligte teen alles wat regop staan. Te feestelik! Ek trippel al om almal se dik gevoelentes oor Kersfees self, en ons vier fees. Ons slaan gewoonlik die eerste week van Kersfees reeds die liggies op, en elke keer as dit skyn jubel ek van voor af.

    Like

  3. 06/12/2014 om 16:59

    Reblogged this on Thulana and commented:
    Ek is gek na Kersfees se vieringe, en basta met almal se grille. Ek vier fees met almal om my…en ons kuier.

    Like

  4. 21/12/2014 om 00:35

    Reblogged this on Hanneliesebredell07's Blog and commented:
    25Desember-die waarskynlikste oorsprong van die datum is by Mithras, ‘n Persiese songod van die lig, sterrehemel en reinheid. Dit bevestig net nogmaals….25 Desember is geseende Sol Invictus

    Like

  5. Spokie sny spoor
    08/01/2015 om 08:24

    Oulik! Ek hou van die wyse manier wat hierdie artikel saamgestel is, en voel 100% dieselfde. Dit is nugter en rassioneel vir ons tyd, benaderd.

    Like

  1. No trackbacks yet.

Lewer kommentaar